Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 26:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Na die siekte-epidemie het die Here vir Moses en vir Eleasar, Aäron se seun, gesê:

2. “Tel nou die hele volk. Julle moet al die mans van elke stam tel wat twintig jaar en ouer is en wat geskik is vir militêre diens.”

3-4. In daardie stadium was die Israeliete se kamp in die vlakte van Moab, langs die Jordaanrivier, regoor Jerigo. Moses en Eleasar het toe die leiers beveel om so ’n opname te maak, presies soos die Here voorgeskryf het. Hier volg nou ’n lys van die Israeliete wat lank terug reeds uit Egipte weg is.

5. Ruben was die oudste seun van Israel: die Rubenfamilies was dié van Ganok,

6. Gesron en Karmi.

7. Die Rubenfamilies was altesaam 43 730 man.

8. Pallu se seun was Eliab,

9. en sy seuns was Nemuel, Datan en Abiram. Dit was dié Datan en Abiram wat as leiers deur die vergadering verkies was, maar wat saam met Korag en sy trawante teen Moses en Aäron in opstand gekom het.

10. Die grond het oopgeskeur en hulle het saam met Korag en sy volgelinge in die skeur verdwyn. Dit was ook toe dat die Here die 250 man met vuur verbrand het om Israel te waarsku.

11. Korag se seuns is egter nie dood nie.

Lees volledige hoofstuk Numeri 26