Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 21:13-23 Die Boodskap (DB)

13. Hulle het weer opgepak en verder getrek. Toe het hulle aan die noordekant van die Arnonrivier kamp opgeslaan in die woestyn wat tot teen die Amoriete se gebied loop. Die Arnonrivier vorm die grens tussen Moab en die Amoriete.

14. Daarom lees ons die volgende woorde oor hierdie gebied in Die Boek van die Oorloë van die Here: “Die stad Waheb is in die Sufastreek. Die valleie en die Arnonrivier

15. met die hange van die vallei strek tot by die stad Ar op die grens van Moab.”

16. Daarvandaan het Israel getrek tot by Beër. Beër is die waterput waar die Here vir Moses gesê het: “Maak die volk bymekaar, dan gee Ek vir hulle water om te drink.”

17. Daar het die Israeliete hierdie lied gesing:“Put, gee vir ons water; ons sal sing as ons dit sien!

18. Die leiers het die put gegrawe en die leiers van ons volk het dit verder met hulle septers en kieries oopgemaak.” Die Israeliete het uit hierdie woeste gebied uit getrek na Mattana toe,

19. en daarvandaan na Nagliël en van Nagliël af Bamot toe.

20. Hiervandaan is hulle verder deur die vallei in die gebied van Moab in tot by die berg Pisga. Van hier af kan jy ver oor die woestyn uitkyk.

21. Die Israeliete het boodskappers na koning Sihon, die koning van die Amoriete, toe gestuur om hom te vra:

22. “Laat ons asseblief toe om deur u land te trek. Ons sal nie deur die landerye of die wingerde trek nie. Ons sal nie eens water uit julle putte skep om te drink nie. Ons sal op die grootpad bly, die een wat die Koningspad genoem word, totdat ons deur u gebied is.”

23. Maar Sihon wou nie toelaat dat Israel deur sy gebied trek nie. Hy het sy leër bymekaargekry om die Israeliete in die woestyn aan te val. Die geveg het toe by Jahas plaasgevind.

Lees volledige hoofstuk Numeri 21