Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 16:5-14 Die Boodskap (DB)

5. Daarna het hy vir Korag en sy trawante gesê: “Môreoggend sal die Here die persoon aanwys wat Hy uitgekies het om die leier van hierdie volk te wees asook die persoon wat Hy afgesonder het om namens die volk offers op die altaar te bring. Die Here sal die persone wat Hy uitgekies het, toelaat om Hom by sy altaar te ontmoet.

6-7. Korag, jy en jou trawante moet so maak: Kry vir julle elkeen ’n bak met warm kole in waarop julle wierook vir die Here kan brand. Bring dit dan môre na die altaar toe. Daar sal ons sien wie die Here kies as die persoon wat Hom verteenwoordig. Dis nie ons wat te ver gegaan het nie, maar eerder julle klomp Leviete wat julle te veel aanmatig.”

8. Moses het verder vir Korag en dié wat by hom was, gesê: “Julle klomp Leviete moet mooi luister!

9. Is julle nie tevrede daarmee dat die God van Israel julle tussen al die ander mense uitgekies het om in die tent van aanbidding namens die volk op te tree en hulle te bedien nie?

10. Korag, is dit nie genoeg van ’n eer vir julle nie? Wil julle nou die priesterskap ook inpalm?

11. Julle dink dit is Aäron teen wie julle in opstand kom, maar besef julle nie dat dit eintlik teen die Here is wat julle rebelleer nie? Wie is Aäron na alles?”

12. Daarna het Moses vir Datan en Abiram, die seuns van Eliab, laat roep, maar hulle het geweier om na hom toe te kom.

13. “Is dit nie genoeg dat jy ons uit ’n vrugbare land soos Egipte laat wegtrek het om ons hier in die woestyn te laat doodgaan nie?” het hulle gevra. “Dink jy jy kan nou nog baasspeel ook oor ons?

14. Wat meer is, jy het ons beslis nie na ’n vrugbare land toe gebring nie en hier is ook nie lande of wingerde wat ons kan erf nie. Dink jy jy kan ons aanhou mislei? Ons sal nie na jou toe kom nie!”

Lees volledige hoofstuk Numeri 16