Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 16:20-32 Die Boodskap (DB)

20. Die Here sê toe vir Moses en Aäron:

21. “Staan eenkant toe, weg van hierdie klomp mense af, want Ek wil hulle hier en nou van die aarde afvee.”

22. Maar Moses en Aäron het op hulle knieë neergeval en begin bid: “O God, U is die bron van alles wat lewe. Gaan U nou al hierdie mense doodmaak omdat U kwaad is oor een man se sonde?”

23. Toe sê die Here vir Moses:

24. “Sê vir al die mense om pad te gee van Korag, Datan en Abiram se tente af.”

25. Moses en die leiers van die volk is toe haastig na Datan en Abiram se tente toe.

26. Daar aangekom, sê hy vir die mense wat daar bymekaargekom het: “Gee dadelik pad van hierdie goddelose mense se tente af. Moenie aan iets raak wat aan hulle behoort nie, want as julle dit doen, sal julle saam met hulle oor hulle sonde doodgemaak word.”

27. Die volk het toe dadelik van Korag, Datan en Abiram se tente af padgegee. Datan en Abiram het saam met hulle gesinne uit hulle tente uitgekom en by die ingang gaan staan.

28. Toe sê Moses: “Julle sal nou self sien of die Here my gestuur het om al hierdie dinge te doen en of ek dit uit my eie doen.

29. As hierdie mense op ’n natuurlike manier doodgaan, soos enigiemand anders, het die Here my nie gestuur nie.

30. Maar as die Here nou ’n wonderwerk doen en die aarde laat oopskeur, sodat hulle met hulle gesinne en al hulle besittings in die skeur inval en lewendig begrawe word, sal julle weet dat hierdie mense die rug vir die Here gedraai het.”

31. Moses se woorde was nog nie behoorlik koud nie,

32. toe skeur die aarde oop sodat Datan, Abiram en hulle gesinne daarin kan val. Dieselfde lot het ook vir Korag en sy ondersteuners getref.

Lees volledige hoofstuk Numeri 16