Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 16:16-28 Die Boodskap (DB)

16. Vir Korag het hy gesê: “Sorg jy dat al jou volgelinge môre hier is sodat julle voor die Here kan kom staan. Aäron moet ook hier wees.

17. Maak seker dat elkeen van jou 250 volgelinge ’n bak met warm kole het waarop julle wierook vir die Here kan brand. Aäron sal ook sy bak met kole en wierook bring.”

18. Hulle het almal toe hulle bakke gevat, kole en wierook daarin gesit en saam met Moses en Aäron by die ingang van die tent gaan staan waar die Here aanbid word.

19. Intussen het Korag ook die res van die Israeliete teen Moses en Aäron opgestook en hulle het ook daar by die tent kom staan. Die volgende oomblik het die verblindende lig van die Here se teenwoordigheid vir almal sigbaar geword.

20. Die Here sê toe vir Moses en Aäron:

21. “Staan eenkant toe, weg van hierdie klomp mense af, want Ek wil hulle hier en nou van die aarde afvee.”

22. Maar Moses en Aäron het op hulle knieë neergeval en begin bid: “O God, U is die bron van alles wat lewe. Gaan U nou al hierdie mense doodmaak omdat U kwaad is oor een man se sonde?”

23. Toe sê die Here vir Moses:

24. “Sê vir al die mense om pad te gee van Korag, Datan en Abiram se tente af.”

25. Moses en die leiers van die volk is toe haastig na Datan en Abiram se tente toe.

26. Daar aangekom, sê hy vir die mense wat daar bymekaargekom het: “Gee dadelik pad van hierdie goddelose mense se tente af. Moenie aan iets raak wat aan hulle behoort nie, want as julle dit doen, sal julle saam met hulle oor hulle sonde doodgemaak word.”

27. Die volk het toe dadelik van Korag, Datan en Abiram se tente af padgegee. Datan en Abiram het saam met hulle gesinne uit hulle tente uitgekom en by die ingang gaan staan.

28. Toe sê Moses: “Julle sal nou self sien of die Here my gestuur het om al hierdie dinge te doen en of ek dit uit my eie doen.

Lees volledige hoofstuk Numeri 16