Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 10:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Maak twee trompette van suiwer silwer en gebruik dit om die volk bymekaar te kry vir ’n vergadering of as teken dat hulle die kamp moet opbreek.

3. As albei die trompette gelyk blaas, moet die hele volk bymekaarkom vir ’n vergadering voor die ingang van die tent waar Ek aanbid word.

4. As net een van die trompette geblaas word, is dit ’n teken vir die leiers van die stamme om na jou toe te kom vir ’n vergadering.

5. As julle die trompet die eerste keer kort en hard blaas, moet die stamme wat aan die oostekant gekamp het, oppak en vertrek.

6. Wanneer die trompet die tweede keer kort en hard geblaas word, is dit tyd vir die stamme aan die suidekant om op te pak en te trek. Elke groep moet oppak en trek wanneer hulle die teken hoor wat spesiaal vir hulle bedoel is.

7. Om die volk vir ’n vergadering op te roep moet die trompette op ’n ander manier en toonhoogte geblaas word.

8. Net die priesters, Aäron se seuns en hulle kinders, mag die trompette blaas. Dit is ’n reël wat vir julle ganse nageslag moet geld.

9. Wanneer julle in julle land aankom en julle julle teen julle vyande moet verdedig, moet julle hard op hierdie trompette blaas om die volk vir oorlog op te roep. Dan sal Ek, die Here julle God, onthou dat julle my volk is en Ek sal julle van julle vyande red.

10. Julle moet ook die trompette blaas as julle bly is en iets het om te vier. Blaas hulle by julle jaarlikse feeste en aan die begin van elke nuwe maand. Blaas hulle as julle bly is oor julle brandoffers en julle eteoffers. Die trompette sal My daaraan herinner dat Ek in ’n ooreenkoms met julle vir julle gesê het: “Ek is die Here, Ek is julle God.”

11. Op ’n dag in die middel van die lente, twee jaar nadat die Israeliete uit Egipte uit weg is, het die wolk van die tabernakel af opgelig.

12. Die Israeliete het toe getrek van die Sinaiwoestyn af tot in die Paranwoestyn, waar die wolk weer tot stilstand gekom het.

13. Die Israeliete het getrek op die manier wat die Here vir Moses beveel het. Hulle het dit so gedoen:

14. heel voor het die afdelings onder leiding van die stam van Juda onder hulle eie vlag vertrek. Hulle leier was Amminadab se seun Nagson.

Lees volledige hoofstuk Numeri 10