Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 4:15-21 Die Boodskap (DB)

15. Toe ons vyande agterkom dat ons weet van hulle planne om ons aan te val, het hulle besef dat God dit in die wiele gery het. Daarna kon ons voortgaan met ons werk aan die muur.

16-17. Van daardie dag af het die helfte van die mense aan die muur gebou terwyl die ander helfte waggestaan het met spiese, skilde, pyle en boë en borsharnasse. Die leiers van die volk het almal wat aan die muur gewerk het, elke dag besoek en aangemoedig. Die helpers wat die boumateriaal moes aandra, het hulle werk met een hand gedoen, want in die ander hand het hulle ’n wapen gedra.

18. Al die bouers het ook ’n swaard om hulle heupe gedra. Die soldaat wat met sy trompet alarm moes maak as daar gevaar kom, het die hele tyd by my gebly.

19. Ek het vir almal daar gesê: “Ons het nog baie werk om te doen. Die muur strek oor ’n groot gebied en ons is soms ver van mekaar af.

20. As julle die trompet hoor blaas, sorg dat julle so gou moontlik by my en die soldate uitkom. Ons weet ons God sal ons help in die geveg.”

21. Ons het elke dag aan die muur gewerk, van die son opgekom tot die sterre uitgekom het. Terwyl die een helfte gewerk het, het die ander helfte waggestaan met hulle wapens.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 4