Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 9:6-19 Die Boodskap (DB)

6. Toe sê Moses vir hulle: “Dit is presies wat die Here wou hê julle moes doen sodat julle kan ervaar hoe geweldig groot Hy is.”

7. Moses sê toe vir Aäron: “Kom jy nou na die altaar toe en bring die dier wat jy vir jou sonde offer en die dier wat jy op die altaar in die vuur verbrand, sodat jy jou skuld by die Here kan betaal en met Hom vrede kan kry. Bring ook die volk se offer sodat hulle skuld ook betaal kan word, soos die Here gesê het ons moet maak.”

8. Aäron het toe na die altaar gegaan en die kalf vir sy sonde geslag.

9. Sy seuns het die bloed vir hom gebring. Hy het sy vinger daarin gesteek en daarvan aan die punte van die altaar gesmeer. Die bloed wat oor was, het hy onder teen die altaar uitgegooi.

10. Hy het die vet en die niere en die lewerpunt van die dier op die altaar verbrand, soos die Here gesê het Moses moet maak.

11. Die dier se vleis en die vel het hy egter buite die kamp laat verbrand.

12. Hy het toe ook die offer gebring wat op die altaar verbrand word. Sy seuns het die bloed vir hom aangegee en hy het daarvan teen die kante van die altaar gespat.

13. Hulle het die verskillende dele van die dier wat geslag is, vir hom aangegee om op die altaar te laat brand en ook die dier se kop. Hy het dit alles op die altaar verbrand.

14. Hy het die binnegoed en die pote afgewas en dit saam met die res van die offer op die altaar verbrand.

15. Hierna het Aäron ook die volk se offer gebring. Hy het die bok gevat wat vir die sonde van die volk geoffer moes word, dit geslag en net so geoffer soos sy eie offer.

16. Hy het ook hulle offer wat op die altaar verbrand moes word, gebring en daarmee volgens die voorskrif gemaak.

17. Hy het ook bo en behalwe die oggend se offer wat verbrand word, ’n offer uit die graan gebring. Hy het ’n hand vol daarvan geneem en dit op die altaar verbrand.

18. Hy het ook die bul en die ram vir die volk se offer waarvan hulle ook kan eet, geslag. Sy seuns het die bloed in ’n houer vir hom aangegee en hy het daarvan reg rondom teen die altaar gespat.

19. Hy het al die stukke vet van die bul en die ram - dit is nou die vetstert, die vetlaag oor die niere en die gedeelte oor die lewer -

Lees volledige hoofstuk Levitikus 9