Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 9:1-15 Die Boodskap (DB)

1. Op die agtste dag het Moses vir Aäron, sy seuns en ook die leiers van Israel na hom toe laat kom.

2. Hy het vir Aäron gesê: “Vat ’n gesonde bulletjie en ’n welgeskape ram en bring een vir die Here as ’n offer vir die sonde en die ander as ’n offer wat in die vuur verbrand word.

3. Sê ook vir die Israeliete hulle moet vir hulleself ’n gesonde bokram bring om vir hulle sonde te offer, sowel as ’n gesonde jaaroud bulletjie en ’n skaaplam om op die altaar te verbrand.

4. Daarby moet hulle ook ’n uitgegroeide bul en ’n ram as ’n offer bring vir die Here om voor die Here te eet, sowel as ’n offer van gemaalde graan wat met olie gemeng is. Die Here wil julle vandag ontmoet.”

5. Die Israeliete het toe al die goed wat Moses opgenoem het, na die tent van ontmoeting gevat. Almal het daar bymekaargekom en voor die Here gaan staan om Hom te ontmoet.

6. Toe sê Moses vir hulle: “Dit is presies wat die Here wou hê julle moes doen sodat julle kan ervaar hoe geweldig groot Hy is.”

7. Moses sê toe vir Aäron: “Kom jy nou na die altaar toe en bring die dier wat jy vir jou sonde offer en die dier wat jy op die altaar in die vuur verbrand, sodat jy jou skuld by die Here kan betaal en met Hom vrede kan kry. Bring ook die volk se offer sodat hulle skuld ook betaal kan word, soos die Here gesê het ons moet maak.”

8. Aäron het toe na die altaar gegaan en die kalf vir sy sonde geslag.

9. Sy seuns het die bloed vir hom gebring. Hy het sy vinger daarin gesteek en daarvan aan die punte van die altaar gesmeer. Die bloed wat oor was, het hy onder teen die altaar uitgegooi.

10. Hy het die vet en die niere en die lewerpunt van die dier op die altaar verbrand, soos die Here gesê het Moses moet maak.

11. Die dier se vleis en die vel het hy egter buite die kamp laat verbrand.

12. Hy het toe ook die offer gebring wat op die altaar verbrand word. Sy seuns het die bloed vir hom aangegee en hy het daarvan teen die kante van die altaar gespat.

13. Hulle het die verskillende dele van die dier wat geslag is, vir hom aangegee om op die altaar te laat brand en ook die dier se kop. Hy het dit alles op die altaar verbrand.

14. Hy het die binnegoed en die pote afgewas en dit saam met die res van die offer op die altaar verbrand.

15. Hierna het Aäron ook die volk se offer gebring. Hy het die bok gevat wat vir die sonde van die volk geoffer moes word, dit geslag en net so geoffer soos sy eie offer.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 9