Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 8:19-33 Die Boodskap (DB)

19. Moses het dit geslag en die bloed daarvan aan alle kante teen die altaar uitgegooi.

20. Hy het die ram in stukke opgesny. Hy het die ram se kop, sy vleis en sy binnevet verbrand.

21. Nadat hy die binnegoed en agterpote met water afgewas het, het Moses dit wat van die ram oor was, op die altaar verbrand. Dit was ’n offer wat verbrand word wat vir die Here baie aanvaarbaar is. Dit was soos die Here Moses beveel het om te maak.

22. Toe is die tweede ram nader gebring. Die ram sou gebruik word om die dienaars by die tent in hulle werk aan te stel. Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gesit.

23. Moses het dit geslag en van sy bloed gevat en daarvan aan Aäron se regteroorlel, sy regterduim en sy regtergroottoon gesmeer.

24. Moses het ook Aäron se seuns laat nader kom en van die bloed aan elkeen se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon gesmeer. Moses het die bloed wat oor was teen die kante van die altaar uitgegooi.

25. Hy het toe van die ram se vet gevat, sy vetstert, al die vet aan die binnegoed, die punt van sy lewer, sy twee niere, asook die niervet en sy regterblad.

26. Hy het uit die mandjie vol brode wat sonder suurdeeg gebak is en voor die Here gestaan het, ’n ronde brood gevat, en ’n ringbrood wat met olie gebak is en ’n roosterkoek, en dit by die vet en die regterblad gesit.

27. Daarna het hy dit alles vir Aäron en sy seuns gegee en hulle het dit as beweegoffer aan die Here opgedra.

28. Moses het dit toe weer by hulle gevat en dit bo-op die offer op die altaar gesit en alles verbrand. Dit was ’n offer om Aäron en sy seuns aan die Here op te dra, ’n offer wat met vuur verbrand word waarvan die Here baie hou.

29. Moses het toe die stuk van die ram se bors gevat en dit ook aan die Here opgedra. Dit was die deel van die ram wat vir die aanstelling van die dienaars gebruik is, wat die Here gesê het Moses vir homself kan vat.

30. Moses het van die olie en van die bloed wat by die altaar was, gevat en op Aäron en oor sy klere, en ook oor sy seuns en oor hulle klere gesprinkel. So het hy Aäron en sy klere en sy seuns en hulle klere aan die Here toegewy.

31. Moses het Aäron en sy seuns toe aangesê om die res van die vleis by die ingang van die tent van ontmoeting te gaan kook en dit daar te eet saam met die brood wat uit die mandjie kom wat by hulle aanstelling gebruik is. Sy opdrag was: “Aäron en sy seuns moet dit eet.

32. Wat van die vleis en brood oorbly, moet met vuur verbrand word.

33. Julle mag vir die volgende sewe dae tot die tyd van julle inhuldigingsgeleentheid verby is, nie van die deur van die tent van ontmoeting af weggaan nie. Dit hou ’n volle sewe dae lank aan.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 8