Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 4:13-26 Die Boodskap (DB)

13. “As die hele geloofsgemeenskap van Israel oortree het, is hulle almal skuldig. Selfs al was die groep onbewus daarvan dat hulle iets gedoen het wat in die Here se wette verbied is, is hulle almal skuldig.

14. As dit duidelik word dat hulle oortree het, moet hulle almal saam ’n bul na die tent van ontmoeting bring om dit vir hulle sonde te offer.

15. Die leiers van die groep moet daar voor die Here hulle hande op die bul se kop sit. Hulle slag dan die bul voor die Here.

16. Die dienaar wat met olie gesalf is om vir die Here te werk bring dan van die bloed van die bul in die tent van ontmoeting in.

17. Hy doop sy vinger in die bloed en sprinkel sewe keer teen die gordyn in die tent.

18. Hy smeer ook van die bloed aan die horings van die altaar wat daar voor die Here in die tent van ontmoeting staan. Die bloed wat nog oor is, gooi hy teen die onderkant van die altaar uit.

19. Hy vat ook al die vet van die bul en verbrand dit op die altaar.

20. Hy maak met die bul presies net soos hy gemaak het met die bul wat hulle vir hulle sonde gebring het. Wanneer hy so maak, vergewe die Here die volk dat hulle oortree het. Daar kom weer vrede tussen God en sy mense.

21. Die dienaar van die tent vat dan die bul se karkas uit die kamp uit en hy verbrand dit daar, net soos hy met die eerste bul gemaak het. Hierdie bul is dan die offer vir die sonde van die volk.

22. “Wanneer ’n leier ’n fout maak sonder dat hy dit bedoel en hy iets doen wat die Here beveel het nie mag gebeur nie, is hy skuldig.

23. As dit duidelik word dat hy oortree het, moet hy ’n bokram sonder gebrek vir die Here bring.

24. Hy sit sy hand op die bok se kop en slag hom op dieselfde plek waar die offers geslag word wat vir die Here verbrand word. Daarmee betaal hy vir die sonde wat hy gedoen het.

25. Die persoon wat by die tent diens doen, vat van die bloed van die dier wat hy vir sy sonde kom offer het en smeer met sy vinger daarvan aan die horings van die altaar waarop die diere verbrand word. Die bloed wat oor is, gooi hy teen die voet van die altaar uit.

26. Hy verbrand dan al die vet van die bok op die altaar net soos die vet van die dier wat gebring is om saam met die Here te eet. Wanneer die dienaar so maak, bring hy vergewing vir die leier se sonde. Hy word dan vrygespreek van sy oortreding.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 4