Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 26:33-46 Die Boodskap (DB)

33. Julleself sal Ek soos saad uitstrooi tussen die nasies in. Ek sal oorlog agter julle aanstuur. Julle land sal ’n Godverlate plek word en julle stede ashope.

34. Al die jare wat die grond onbewerk gaan lê terwyl julle in die land van julle vyande bly, sal die land kan rus kry. Dit sal die sabbatsjare inhaal wat dit verloor het.

35. Dit sal in daardie tyd die rus kry wat julle dit nooit tydens die sabbatsjare gegun het nie.

36. Ek sal dié van julle wat in die vyand se land oorgebly het, so senuweeagtig maak dat bloot net die geritsel van ’n droë blaar hulle op loop sal jaag. Hulle sal die hasepad kies asof iemand met ’n swaard agter hulle aan is. Hulle sal op die grond neerslaan sonder dat daar werklik iemand is wat hulle jaag.

37. Hulle sal so bang wees vir die lem van die swaard dat hulle oor mekaar sal val om weg te kom van iemand wat nie eers daar is nie. Julle sal nie in staat wees om julle vyand in die oë te kyk nie.

38. Julle sal by die heidennasies doodgaan. Julle vyand se land sal julle insluk.

39. Dié van julle wat oor is, sal in julle vyand se land uitsterf as gevolg van julle en julle ouers se sondes.”

40. “Dan sal julle julle sondes en dié van julle ouers bely. Julle sal erken dat julle nie aan My getrou was nie en dat julle My so uitgetart het

41. dat Ek teen julle moes draai. Ek moes julle na julle vyande se land laat wegvoer om te sien of julle nie miskien julle gesindheid sal verander en julle sonde weer sal regmaak nie.

42. As julle dit sou doen, kon Ek weer my verbintenis aan Jakob, Isak en Abraham in gedagte roep en weer van die land onthou.

43. Julle sal egter eers uit die land moet weggaan. Julle sal die straf vir julle skuld moet dra. In die tyd dat julle weg is en die grond net so onbewerk lê, sal die land die agterstallige rusjare inhaal.

44. Ten spyte egter van al hierdie dinge, selfs al is julle gevangenes in die land van julle teëstanders, sal Ek julle nie so weggooi en julle nie so minag dat Ek my verbintenis met julle heeltemal sal opsê nie. Ek is tog julle God, die Here.

45. Ek het julle uit Egipte laat trek terwyl die ander nasies dit gesien het. Ek sal onthou dat Ek beloof het om julle God te wees. Ek is tog die Here.”

46. Dit is al die reëls en die voorskrifte wat die Here tussen Hom en die Israeliete deur Moses daar op die Sinaiberg neergelê het.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 26