Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 26:1-10 Die Boodskap (DB)

1. “Julle mag nie in julle land vir julleself afgodjies maak wat julle gebruik om gode te aanbid nie. Julle mag ook nie uitgekerfde beelde hê, of klippilare oprig, of klippe hê waarop julle beelde van gode uitgegraveer het nie. Ek, die Here, is mos reeds julle God.

2. Julle moet my rusdae vier en respek hê vir die tent waar julle My ontmoet. Ek is die Here.”

3. “As julle volgens my reëls lewe en die dinge doen wat Ek julle beveel en in lyn daarmee optree,

4. sal Ek dit betyds laat reën. Daar sal oeste wees op die lande en vrugte aan die bome.

5. Julle oesseisoen sal aanhou tot dit weer tyd is om druiwe te pluk. Julle druiweoes sal aanhou tot dit tyd is om weer koring te saai. Julle sal oorgenoeg kos hê en julle sal gerieflik in julle land bly.

6. Ek sal sorg dat daar vrede in julle land is sodat julle rustig kan slaap in die nag. Ek sal die gevaarlike diere uit julle land laat verdwyn. Ek sal julle teen die aanvalle van julle vyande beskerm.

7. Trouens, julle sal julle vyande agtervolg en hulle met julle wapens afmaai.

8. Net vyf van julle sal nodig wees om 100 van hulle te agtervolg. Honderd sal 10 000 vyande agternasit en hulle van die gras af maak.

9. Ek sal goed wees vir julle. Ek sal maak dat julle baie mense word. So sal Ek my ooreenkoms met julle nakom.

10. Julle sal nog van die vorige jaar se graan eet wanneer dit weggegooi sal word om plek te maak vir die graan van die nuwe oes.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 26