Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 25:9-20 Die Boodskap (DB)

9. Op die tiende dag van die sewende maand in die 50ste jaar, die dag wat die Here vrede gee, moet julle op die trompette blaas. Kondig deur die hele land aan

10. dat julle daardie jaar aan die Here moet opdra. Julle moet dan bekendmaak dat al die inwoners daardie jaar alles kan terugkry wat vroeër aan hulle behoort het. Elkeen kan dan weer teruggaan na die grond wat hy oorspronklik besit het. Elke slaaf word vrygemaak en hy kan teruggaan na sy eie familie toe.

11. In hierdie hersteljaar mag julle niks saai nie. Julle mag ook nie die graan wat vanself opkom, afoes of die druiwe van die ongesnoeide wingerdstokke afpluk nie.

12. Dit moet vir julle ’n spesiale jaar wees waarin alles weer herstel. Julle mag net eet wat die veld oplewer.

13. In die hersteljaar kan elkeen teruggaan na die grond wat hy vantevore besit het.

14. As julle in ander jare grond aan mekaar verkoop of van mekaar koop, moet julle mekaar nie verkul nie.

15. As jy by iemand grond koop, moet jy uitreken hoeveel jare al verbygegaan het na die laaste hersteljaar. As jy dit aan ’n ander verkoop, moet jy bereken hoeveel jare se oes daar nog oor is na die volgende hersteljaar toe.

16. Hoe meer jare oor is, hoe hoër is die koopprys. As daar minder jare oor is, is die verkoopprys soveel minder. Eintlik is dit nie grond wat jy koop en verkoop nie, maar die aantal oeste wat dit kan oplewer.

17. Uit respek vir jou God moet julle mekaar nie bedrieg nie. Ek is tog die Here, julle al twee se God.

18. “Hou by die reëls wat Ek gegee het. Volg my voorskrifte en lewe volgens hulle. Julle sal dan in die land kan bly sonder dat daar iets is wat julle bangmaak.

19. Die land sal goeie oeste gee. Julle sal altyd genoeg kos hê om te eet tot julle genoeg gehad het. Julle sal hier woon sonder bekommernis.

20. “Moenie staan en wonder waar julle kos gaan kry in die sewende jaar as julle nie mag saai of die oes mag insamel nie.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 25