Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 25:41-52 Die Boodskap (DB)

41. Hy en sy kinders moet dan van jou af weggaan en as vry mense terugkeer na hulle familie en hulle erfgrond toe.

42. Die mense wat Ek uit Egipte laat wegtrek het, dien net vir My. Hulle mag nooit aan ander mense as slawe verkoop word nie.

43. Omdat jy ontsag moet hê vir jou God, mag jy nie hardhandig baasspeel oor dié wat vir jou werk nie.

44. “Jy mag wel manlike of vroulike slawe besit wat vir jou werk. Jy moet hulle by julle buurvolke gaan koop.

45. Jy mag ook die kinders van buitelandse werkers wat by jou woon en die kinders van hulle families wat in jou land gebore is, vir slawe aankoop. Hulle word deel van jou roerende goedere.

46. Jy kan hulle in jou testament aan jou kinders bemaak as hulle eiendom. Hulle is lewenslank hulle slawe. Een Israeliet mag egter nie ’n ander Israeliet met geweld oorheers nie.

47. “As ’n buitelander, of iemand wat met ’n werkspermit by julle woon, so ryk word dat ’n ander Israeliet naderhand so diep in die skuld by hom raak dat hy homself as slaaf aan daardie persoon moet aanbied,

48. bly dit steeds moontlik dat hy vrygekoop kan word. ’n Ander Israeliet,

49. sy oom of sy neef of enige van sy ander familielede kan hom loskoop en sy skuld kom betaal. Hy mag selfs ook die geld iewers in die hande kry om homself uit sy skuld uit te koop.

50. Hy en sy eienaar moet die bedrag bereken volgens die betaling wat ’n dagwerker kry. Hulle trek dan die jare diens wat hy reeds gelewer het sedert hulle die ooreenkoms gesluit het af van die jare diens wat hy nog moet lewer tot die volgende hersteljaar toe.

51. Hoe meer jare daar nog oor is tot by die hersteljaar, hoe groter is die bedrag wat hy moet betaal.

52. As daar maar net ’n paar jaar oor is voor die hersteljaar, sal die aflosbedrag baie kleiner wees.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 25