Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 24:10-19 Die Boodskap (DB)

10. ’n Man wat ’n Israelitiese ma gehad het en ’n Egiptiese pa, het eenmaal in die kamp aan die baklei geraak met ’n Israelitiese man.

11. Sy ma se naam was Selomit. Sy was Dibri se dogter. Hulle was uit die stam van Dan. Haar seun het gevloek en die Here se Naam gebruik asof dit sommer iets alledaags is. Die ander mense het hom toe na Moses gevat.

12. Hulle het hom opgesluit sodat Moses vir die Here kon vra wat hulle met hom moes doen.

13. Die Here het toe vir Moses gesê:

14. “Vat die man wat gevloek het uit die kamp uit. Elkeen wat gehoor het wat hy gesê het, moet hulle hand op sy kop sit om te wys dat hy skuldig is. Daarna moet almal hom met klippe doodgooi.

15. Sê dan vir die Israeliete: Enigiemand wat God se Naam sommerso gebruik sonder eerbied vir die Here, moet daarvoor boet.

16. As ’n Israeliet of iemand van ’n ander plek die Here vloek, sal hy sonder meer doodgemaak word. Die volk moet hom met klippe doodgooi.

17. “As ’n persoon iemand anders doodmaak, moet hy self doodgemaak word.

18. Die persoon wat iemand anders se dier doodmaak, moet daarvoor vergoed en ’n dier wat dieselfde waarde het, in sy plek gee.

19. As iemand ’n medemens aan sy lyf seermaak, moet hy op dieselfde plek seergemaak word en in eie munt terugbetaal word.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 24