Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 20:6-21 Die Boodskap (DB)

6. Ek verwerp die persoon wat afdwaal en agter spiritiste en die geeste van dooies aanloop. Hy is nie meer een van die volk nie.

7. Leef vir My met alles wat julle het. Wees aan My toegewyd, want net Ek, die Here, is julle God.

8. Hou vas aan my reëls en leef volgens hulle, want Ek, die Here, het julle aan My alleen verbind.”

9. “Wanneer enigiemand sy ouers met minagting behandel, moet hy doodgemaak word. Iemand wat op sy ouers neersien, mag nie bly leef nie.

10. “As ’n man by ’n ander man se vrou slaap, moet hulle al twee doodgemaak word.

11. As ’n man by een van sy pa se vroue slaap, bring hy sy pa in die skande. Al twee is skuldig en hulle moet doodgemaak word.

12. As ’n man by sy skoondogter slaap, het hulle skande gemaak. Albei is skuldig. Hulle moet doodgemaak word.

13. As ’n man seksueel met ’n ander man verkeer soos met ’n vrou, het hulle iets baie leliks gedoen. Hulle is al twee skuldig en al twee moet doodgemaak word.

14. Dit is ’n skande as ’n man gemeenskap het met sy vrou sowel as sy skoonma. Hulle al drie moet met vuur verbrand word om sulke skandelike gedrag onder julle stop te sit.

15. ’n Man wat seks het met ’n dier moet doodgemaak word en die dier moet doodgeslaan word.

16. As ’n vrou met ’n dier verkeer, moet sy en die dier doodgemaak word.

17. As ’n man en sy suster of halfsuster met mekaar afspreek en met mekaar seks het, moet hulle in die openbaar uit die volk weggejaag word. Die man het sy suster onteer en hy moet daarvoor verantwoordelikheid aanvaar.

18. ’n Man en vrou wat met wedersydse instemming saamslaap terwyl sy besig is om te menstrueer, moet al twee van die volk afgesny word.

19. Jy mag nie omgang hê met jou tannie nie, of dit nou aan jou pa of jou ma se kant is, want dit is bloedfamilie. Julle moet albei skuld aanvaar.

20. Iemand wat by sy tannie slaap, bring skande oor sy oom. Die man en vrou moet verantwoordelikheid aanvaar vir hulle oortreding. Hulle sal doodgaan sonder om ooit kinders te hê.

21. Dit is ’n skande as iemand sy broer se vrou afvry. Hy het skande oor sy broer gebring. Hulle sal nooit kinders hê nie.”

Lees volledige hoofstuk Levitikus 20