Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 19:8-17 Die Boodskap (DB)

8. Iemand wat dit eet, doen boonop sonde, want hy gebruik die offer wat vir die Here gebring is vir homself. Daar is nie plek vir sulke mense in my volk nie.

9. Wanneer julle oes, moet julle nie alles tot op die kant van die land wegoes nie. Julle moet ook nie die are wat met die oes op die grond bly lê het, agterna weer gaan optel nie.

10. Julle moet ook nie julle wingerde kaal stroop tot op die laaste korrel nie. Moenie die druiwe wat geval het, gaan optel nie. Los dit vir die arm mense en vir die vreemdelinge van ander plekke wat by julle bly. Ek is tog die Here julle God.”

11. “Julle moenie mekaar se goed steel nie. Julle moet ook nie mekaar belieg en bedrieg nie.

12. Julle moet ook nie my Naam gebruik en dan ’n vals belofte aflê nie. Julle maak dan die Naam van julle God belaglik. Ek is tog die Here.

13. Moenie jou medemens uitbuit en by hom steel nie. Betaal die tydelike werker wat jy hom skuld. Moenie dit terughou nie.

14. Uit respek vir jou God mag jy nie ’n dowe persoon met minagting behandel nie. Jy moet ook nie iets in die pad van ’n blinde mens sit sodat hy daaroor val nie. Ek is die Here.

15. Wees regverdig wanneer jy besluite moet maak. Moenie kant kies vir iemand omdat hy arm is of omdat hy belangrik is nie. Jy moet jou medemens regverdig behandel.

16. Moenie loop en kwaadpraat oor ander nie. Moenie jou naaste se lewe bedreig nie. Ek is die Here.

17. Moenie met ’n wrok in jou hart teen ’n ander rondloop nie. Praat die saak met hom uit sodat jy nie oor hom begin verkeerd doen nie.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 19