Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 19:10-18 Die Boodskap (DB)

10. Julle moet ook nie julle wingerde kaal stroop tot op die laaste korrel nie. Moenie die druiwe wat geval het, gaan optel nie. Los dit vir die arm mense en vir die vreemdelinge van ander plekke wat by julle bly. Ek is tog die Here julle God.”

11. “Julle moenie mekaar se goed steel nie. Julle moet ook nie mekaar belieg en bedrieg nie.

12. Julle moet ook nie my Naam gebruik en dan ’n vals belofte aflê nie. Julle maak dan die Naam van julle God belaglik. Ek is tog die Here.

13. Moenie jou medemens uitbuit en by hom steel nie. Betaal die tydelike werker wat jy hom skuld. Moenie dit terughou nie.

14. Uit respek vir jou God mag jy nie ’n dowe persoon met minagting behandel nie. Jy moet ook nie iets in die pad van ’n blinde mens sit sodat hy daaroor val nie. Ek is die Here.

15. Wees regverdig wanneer jy besluite moet maak. Moenie kant kies vir iemand omdat hy arm is of omdat hy belangrik is nie. Jy moet jou medemens regverdig behandel.

16. Moenie loop en kwaadpraat oor ander nie. Moenie jou naaste se lewe bedreig nie. Ek is die Here.

17. Moenie met ’n wrok in jou hart teen ’n ander rondloop nie. Praat die saak met hom uit sodat jy nie oor hom begin verkeerd doen nie.

18. Moenie loop en kyk hoe jy iemand kan terugkry nie. Moenie met ’n grief rondloop teen een van jou volksgenote nie. Jy moet net soveel vir ander omgee as wat jy vir jouself omgee. Ek is die Here.”

Lees volledige hoofstuk Levitikus 19