Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 8:4-17 Die Boodskap (DB)

4. met die volgende opdrag: “Gaan kruip aan die agterkant van die stad weg, nie te ver van die stad af nie, en wees reg om aan te val.

5. Ek en die ander soldate wat by my is, sal ’n skynaanval op die stad loods. Wanneer Ai se soldate op ons afkom, sal ons omdraai en net soos die vorige keer vir hulle vlug.

6. Natuurlik sal hulle ons agternasit en dan sal ons hulle weglok totdat hulle van die stad afgesny is. Hulle sal dink ons vlug vir hulle, net soos die vorige keer.

7. Dan moet julle uit julle wegkruipplekke kom en die stad inneem. Die Here julle God sal sorg dat julle die stad inneem.

8. As julle dit gedoen het, moet julle dit aan die brand steek. Dit is ’n bevel van die Here!”

9. Hulle is toe na hulle wegkruipplek toe, wes van Ai, tussen Ai en Bet-El. Daar het hulle gaan wag. Josua het die nag in die kamp deurgebring.

10. Die volgende môre vroeg het Josua die soldate bymekaargeroep en hulle reggekry vir die geveg. Hy en die leiers van die volk het toe die soldate na Ai toe gelei.

11. Die soldate wat by hom was, het opgetrek en regoor die ingang van die stad stelling ingeneem, aan die noordekant. Die laagte was tussen hulle en die stad.

12. Daardie nag het hy omtrent 5 000 soldate gevat en hulle aan die westekant van die stad tussen Ai en Bet-El laat wegkruip.

13. So is die hoofkamp noord van die stad opgeslaan met die soldate wat die hinderlaag sou lê aan die westekant. Josua het die nag in die laagte deurgebring.

14. Toe die koning van Ai Josua se troepe sien, het hy vinnig opgetree. Hy en sy soldate het opgeruk na ’n gebied regoor die Jordaanvallei om Israel daar aan te pak. Hy het egter nie geweet van die versteekte troepe agter die stad nie.

15. Josua en die soldate by hom het gemaak asof hulle teruggedryf word. Hulle het in die rigting van die woestyn gevlug.

16. Al die manskappe in Ai en Bet-El moes kom help met die agtervolging.

17. Hulle en die soldate van Bet-El is toe agter die Israeliete aan. Die stad het wawyd oopgestaan sonder iemand om dit te verdedig.

Lees volledige hoofstuk Josua 8