Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 11:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Toe die nuus van Israel se oorwinnings koning Jabin van Hasor bereik, het hy dadelik boodskappe aan die volgende konings gestuur: koning Jobab van Madon, die konings van Simron en Aksaf,

2. die konings in die noordelike bergagtige gebiede, dié in die Jordaanvallei suid van Gennesaret, die konings wat in die vlakte gebly het, asook dié wat in die gebied Dor gebly het, dit is die westelike gebied tussen Karmel en Sesarea teen die kus van die Middellandse See.

3. Ook aan die Kanaäniete in beide die oostelike en westelike gebiede en die Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Jebusiete in die berggebiede en die Hewiete wat aan die voet van die berg Hermon gebly het, naby die gebied van Mispa.

4. Al hierdie konings het onmiddellik op die boodskap gereageer en gereedgemaak vir oorlog. Hulle gesamentlike leër saam met hulle perde en strydwaens was so groot dat hulle soos die sandkorrels op die strand gelyk het.

5. Hierdie gesamentlike mag het hulle kamp by die meer van Merom opgeslaan, gereed vir die oorlog teen die Israeliete.

6. Maar die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie. Teen dié tyd môre gee Ek hulle oor aan Israel om hulle almal dood te maak. Jy moet hulle perde se hakskeensenings afsny en hulle strydwaens verbrand.”

7. Josua en sy soldate is toe af na Merom toe, waar hulle ’n verrassingsaanval op die ander leër geloods het.

8. Die Here het vir Israel die oorwinning gegee. Toe die vyand vlug, het hulle hulle agternagesit tot so ver noord as Sidon-Rabba en Misrefot-Majim en ook tot by die vallei van Mispa in die ooste. Hulle het nie opgehou voordat hulle die hele mag uitgeroei het nie.

9. Josua het gedoen wat die Here gesê het hy moet doen: hy het hulle perde se hakskeensenings afgesny en hulle strydwaens verbrand.

Lees volledige hoofstuk Josua 11