Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 10:12-22 Die Boodskap (DB)

12. Op die dag waarop die Here aan Israel die oorwinning oor die Amoriete gegee het, het Josua voor die manskappe vir die Here hulp gevra en gesê: “Son, staan asseblief stil oor Gibeon en maan, oor die vallei van Ajalon.”

13. Toe het die son en maan nie beweeg nie totdat die volk hulle vyande verslaan het. So is dit ook opgeteken in die Boek van die opregte. Die son het in die middel van die hemel bly staan, vir byna ’n volle dag, en nie soos op ’n gewone dag ondergegaan nie.

14. Dit het nooit voor hierdie dag of ooit weer daarna gebeur nie. Maar op daardie dag het die Here na ’n mens se versoek geluister en dit gedoen omdat Hy vir Israel die oorwinning wou gee.

15. Hierna is Josua en sy soldate terug na die kamp toe in Gilgal.

16. Die vyf Amoritiese konings het egter gevlug en in ’n grot by Makkeda gaan wegkruip.

17. Toe Josua hoor dat iemand hulle wegkruipplek gekry het,

18. sê hy: “Rol groot klippe voor die ingang van die grot en kry mense om dit te bewaak.

19. Die res van julle agtervolg julle vyande en maak hulle dood, moenie toelaat dat hulle by hulle stede uitkom nie. Die Here julle God het hulle in julle mag oorgegee.”

20. Die Israelitiese soldate het hulle omtrent almal uitgeroei behalwe ’n paar wat weggekom het en in hulle versterkte stede gaan wegkruip het.

21. Daarna is Josua se soldate almal veilig na hom toe terug waar hy by Makkeda gewag het. Daarna het niemand dit weer gewaag om iets teen die Israeliete te sê nie.

22. Toe sê Josua: “Vat die klippe weg en bring die vyf konings uit na my toe.”

Lees volledige hoofstuk Josua 10