Ou Testament

Nuwe Testament

Job 7:11-21 Die Boodskap (DB)

11. Job het voortgegaan en gesê: “Ek kan nie meer stilbly nie. Ek wil praat van die swaarkry wat ek deurgaan. Ek wil kla, want ek voel bitter.

12. Is ek soos ’n see of ’n seemonster dat U iemand aanstel om my op te pas?

13. As ek gedink het dat ek kon gaan lê het en dat my bed my sou troos, het ek dit mis gehad. Ek het gedink dat ek my ellende sou kon vergeet as ek slaap.

14. Maar U het vir my drome gegee wat my banggemaak het. U het my verskriklike goed laat sien wat my nagmerries gegee het.

15. Dit was so erg dat ek sou verkies het dat iemand my verwurg. Ek sou liewer wou doodgaan as om langer so in my liggaam te bly leef.

16. Ek haat my lewe. Ek gaan tog nie vir altyd lewe nie. Laat my tog net alleen. My lewe maak nie meer sin nie.

17. “Here, waarom is mense so belangrik vir U? U doen so baie moeite met hulle.

18. U kyk elke môre hoe dit met hulle gaan. U toets ook die mens elke oomblik van die dag.

19. U kyk nie eens vir ’n klein rukkie van my af weg nie. Hoekom gee U my nie net ’n kans om asem te skep nie?

20. As ek verkeerde goed sou gedoen het, wat het ek aan U gedoen? U pas mense soos ’n bewaarder op. Hoekom het U my as ’n teiken gebruik? Hoekom het U my gekies? Het ek vir U ’n las geword?

21. Hoekom vergewe U my nie maar die dinge wat ek verkeerd gedoen het nie? Kan U nie maar my skuld wegvat nie? Dit sal nie meer lank wees nie, dan lê ek in my graf. As U my soek, sal ek nie meer daar wees nie.”

Lees volledige hoofstuk Job 7