Ou Testament

Nuwe Testament

Job 5:8-20 Die Boodskap (DB)

8. Elifas het aangegaan en gesê: “Wat ek sou gedoen het as ek jy was, Job: ek sou na die Here toe gaan en my saak by Hom stel.

9. Hy doen wonderlike dinge wat eintlik te groot is vir ons om te verstaan. Hy doen meer wonderwerke as waarmee ons ooit rekening kan hou.

10. Hy laat dit reën op die aarde en sorg dat die velde water kry.

11. Hy maak dit moontlik vir die arm mense om hulle kop op te tel. Hy help mense wat hartseer is om weer met hulle lewe aan te gaan.

12. Hy laat die planne van skelm mense skeefloop. Van al hulle pogings kom net mooi niks.

13. Hy laat mense wat dink dat hulle baie slim is en ander kan uitoorlê, in hulle eie strikke trap. Hy steek ’n stokkie voor al hulle slinkse plannetjies.

14. Donkerte oorval hulle helder oordag. In die middag tas hulle in die donker rond asof dit alreeds nag is.

15. Hy red arm mense uit die dood. Hy maak hulle vry van mense met mag en invloed.

16. Die Here gee vir die armes nuwe hoop. Hy stop mense om ander kwaad aan te doen.

17. “’n Mens moet bly wees as God jou reghelp. Daarom moet jy dit nie ligtelik opvat as Hy jou straf nie.

18. Dit is Hy wat die wonde veroorsaak, maar dit is ook Hy wat die wonde weer versorg en verbind. Hy deel die houe uit, maar sy hande maak ook weer die wonde gesond.

19. Hy sal jou oor en oor uit die moeilikheid red.

20. Hy sal sorg dat jy nie doodgaan as daar nie meer kos is om te eet nie. Hy sal ook kyk dat jy nie in ’n oorlog doodgaan nie.

Lees volledige hoofstuk Job 5