hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42

Ou Testament

Nuwe Testament

Job 5 Die Boodskap (DB)

Elifas praat verder

1. Elifas het verder gesê: “Al roep jy dat iemand jou moet kom help, niemand sal luister nie. By watter engele sal jy hulp soek?

2. ’n Mens wat ’n wrok dra, is eintlik dom. Dit maak jou op die ou einde dood. Jaloesie doen dieselfde met jou.

3. Ek het al gesien hoedat dom mense dink alles is mooi en reg en dan tref ’n ramp skielik hulle huis.

4. Hulle kinders bly agter en daar is niemand om te kyk of hulle veilig is nie. En as hulle in die hof beland, is daar niemand wat hulle saak verdedig nie.

5. Honger mense steel die dom mens se oes. Hulle haal dit selfs onder die doringtakke uit waarmee dit toegepak is. Daar is gierige mense wat graag hulle rykdom wil hê.

6. Swaarkry is mos nie iets wat uit die stof van die aarde uit opkom nie. Net so kom moeilikheid ook nie uit die grond uit op nie.

7. Vonke spat altyd by ’n vuur. Net so seker as wat dit gebeur, word ’n mens gebore om moeilikheid te kry.”

8. Elifas het aangegaan en gesê: “Wat ek sou gedoen het as ek jy was, Job: ek sou na die Here toe gaan en my saak by Hom stel.

9. Hy doen wonderlike dinge wat eintlik te groot is vir ons om te verstaan. Hy doen meer wonderwerke as waarmee ons ooit rekening kan hou.

10. Hy laat dit reën op die aarde en sorg dat die velde water kry.

11. Hy maak dit moontlik vir die arm mense om hulle kop op te tel. Hy help mense wat hartseer is om weer met hulle lewe aan te gaan.

12. Hy laat die planne van skelm mense skeefloop. Van al hulle pogings kom net mooi niks.

13. Hy laat mense wat dink dat hulle baie slim is en ander kan uitoorlê, in hulle eie strikke trap. Hy steek ’n stokkie voor al hulle slinkse plannetjies.

14. Donkerte oorval hulle helder oordag. In die middag tas hulle in die donker rond asof dit alreeds nag is.

15. Hy red arm mense uit die dood. Hy maak hulle vry van mense met mag en invloed.

16. Die Here gee vir die armes nuwe hoop. Hy stop mense om ander kwaad aan te doen.

17. “’n Mens moet bly wees as God jou reghelp. Daarom moet jy dit nie ligtelik opvat as Hy jou straf nie.

18. Dit is Hy wat die wonde veroorsaak, maar dit is ook Hy wat die wonde weer versorg en verbind. Hy deel die houe uit, maar sy hande maak ook weer die wonde gesond.

19. Hy sal jou oor en oor uit die moeilikheid red.

20. Hy sal sorg dat jy nie doodgaan as daar nie meer kos is om te eet nie. Hy sal ook kyk dat jy nie in ’n oorlog doodgaan nie.

21. Hy sal jou beskerm teen mense se geskinder oor jou. Jy hoef ook nie bang te wees as rampe jou tref nie.

22. Jy kan gerus maar ontspan oor rampe en hongersnood. Jy hoef ook nie bang te wees vir die wilde diere nie.

23. Jy sal gemaklik wees met wat in die natuur aangaan. Die wilde diere sal hulle nie eers aan jou steur nie.

24. Jy kan ook seker wees dat jou huis veilig sal wees. Al jou vee sal net so wees soos dit was. Niks sal weg wees nie.

25. Jy sal baie kinders hê. Jou nageslag sal so baie wees soos al die gras wat op die aarde is.

26. Jy sal lank lewe en oud word. Jy sal soos koring eers in die ryp tyd van jou lewe geoes word.

27. Job, ons het al hierdie dinge uit ondervinding geleer. Jy kan gerus hierdie waarhede ernstig opvat. Pas dit op jou eie lewe toe!”