Ou Testament

Nuwe Testament

Job 14:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Job het nog verder gepraat en gesê: “’n Mens se lewe is kort en vol probleme.

2. Jou lewe is soos ’n blom. Vir ’n kort rukkie is die blom pragtig, maar dit gaan gou dood. Dit is soos ’n wolk wat vir ’n klein rukkie ’n skaduwee gooi en dan skielik is dit weg.

3. Dit is so ’n brose mens wat U dophou. U het my voor U gedaag om met my af te reken.

4. Niemand kan iets wat skoon en sonder vlekke is, laat kom uit iets wat vuil is nie.

5. U het besluit hoe lank ’n mens moet leef. U weet hoeveel maande ons het om te lewe. U sê waar die grens van ons lewens is en ons kry nie ’n minuut langer nie.

6. Here, kyk ’n bietjie weg en laat my rus. Gee my kans om soos iemand wat vir ’n dag werk gekry het, my lewenstaak klaar te maak.

7. “As ’n boom afgekap word, is die kans goed dat daar weer nuwe lote en takke uit die stomp sal groei.

8. Dit is dalk so dat die boom se wortels al baie oud is. Dit kan ook wees dat die stomp al in die grond begin vrot het.

9. Maar as daar water kom, kan dit weer soos ’n jong boom groei en nuwe takkies laat uitskiet.

10. “As mense doodgaan, verloor hulle al hulle krag. As die mens sy laaste asem uitblaas, is dit verby. Waar is hulle dan?

11. Water verdamp uit ’n meer. In droogtetye droog riviere op.

12. Met mense gaan dit net so. Hulle gaan lê en staan net nooit weer op nie. Solank daar nog ’n hemel is, sal hulle nie weer wakker word nie. Hulle sal nie weer uit hulle slaap uit opstaan nie.”

13. Job het vir die Here gesê: “Ek wens U wil my tussen die dooie mense wegsteek en my daar hou totdat U nie meer so kwaad is nie. Besluit vir hoe lank U van my wil vergeet. As hierdie tyd verby is, kan U dan weer van my onthou.

Lees volledige hoofstuk Job 14