Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 8:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het vir my gesê: Vat ’n stuk skryfpapier en skryf hierdie naam duidelik met ink daarop: Plunder-en-Roof-is-Naby.

2. Ek het twee betroubare getuies, Uria die priester en Sagaria die seun van Jeberekja, gekry om te bevestig dat Ek hierdie naam reeds neergeskryf het, nog voordat die kind verwek is.

3. ’n Ruk later het my vrou swanger geword. Die kind wat gebore is, was ’n seun. Die Here het toe vir my gesê: Noem hom: “Plunder-en-Roof-is-Naby,”

4. want nog voordat hierdie kind pappa of mamma sal kan sê, sal die koning van Assirië beide Damaskus en Samaria inneem en al hulle skatte as buit vir homself vat.

5. Die Here het weer met my gepraat en gesê:

6. Omdat hierdie volk die rustige stroompie van die Siloagkanaal verag het en bang geword het vir Resin en Peka,

7. sal Ek die koning van Assirië met sy volle mag op hulle laat neerkom. Hulle sal lyk soos die Eufraatrivier in volle vloed wat besig is om sy walle te oorstroom.

8. Die vloed sal skouerhoog deur Juda spoel. O Immanuel, hy sal soos ’n reuseroofvoël wees wat sy vlerke oor jou hele land uitsprei.

9. Luister hier, julle vreemde lande en ver plekke van die aarde, julle kan maar julle oorlogskrete uitskree, ons skrik nie, dit is julle wat gaan weghardloop van vrees. Maak gerus reg vir oorlog, maar terselfdertyd ook vir die paniek wat julle gaan oorweldig.

10. Julle kan soveel planne maak as wat julle wil, dit sal nooit werk nie. Daar sal niks van al julle samewerkingsooreenkomste kom nie, want God is by ons.

11. Die Here het my baie ernstig gewaarsku om nie hierdie volk se voorbeeld te volg nie. Hy het gesê:

12. Moenie alles wat hierdie volk ’n sameswering noem net so aanvaar nie. En moenie skrik en bang wees vir alles waarvoor hulle bang is nie.

13. Onthou, die Here is die Almagtige. As daar Een is vir wie julle bang moet wees, is dit vir Hom; daarom moet julle Hom eer.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 8