Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 63:11-19 Die Boodskap (DB)

11. Toe het sy volk teruggedink aan die dae lank terug in die tyd van Moses. Hulle het gevra: “Wat het geword van die Here wat sy volk saam met hulle leier deur die see laat trek het? Wat het van Hom geword wat sy Gees in hulle harte laat kom woon het?”

12. Hy het met sy krag die see voor hulle laat oopgaan toe Moses sy hand uitgesteek het. Hy het daarmee seker gemaak dat sy Naam vir altyd onthou sal word.

13. Hy het hulle reg deur die bedding van die see gelei soos perde wat oor die vlaktes hardloop sonder om te struikel.

14. Die Here se Gees het hulle na veiligheid gelei soos vee wat na ’n weiveld in ’n laagte gebring word. So het U, Here, u volk gelei sodat u wonderlike Naam vir altyd onthou kan word.

15. Kyk tog ’n bietjie op ons af van daar bo van u hoë woonplek af. Sien ons raak. Wat het geword van die verterende liefde wat U vir ons gehad het en die groot dade waarmee U ons gered het? Moet tog nie u liefde en u meegevoel van ons af weghou nie.

16. U is tog ons Vader. Abraham het nie van ons geweet nie. Israel kon ons nie geken het nie. Maar U, Here, is ons pa. U Naam was nog altyd “ons Bevryder”.

17. Here, waarom het U toegelaat dat ons vreemdelinge vir U geword het? Waarom het U ons so ongevoelig laat word dat ons nie meer respek vir U het nie? Help ons dat ons weer vir U kan lewe en weer aan U kan behoort.

18. Ons kon vir ’n kort rukkie U by die tempel aanbid. Ons vyand het dit ongelukkig verwoes.

19. Ons het geword soos mense wat nooit aan U behoort het nie, soos mense van wie daar nooit gesê is dat hulle u volk is nie.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 63