Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 61:3-11 Die Boodskap (DB)

3. Vir hulle wat in Sion sit en treur, gee Hy feesklere in ruil vir begrafnisklere. Hulle sal ophou treur en baie bly word. Hulle moedeloosheid sal plek maak vir vrolikheid. Hulle sal wees soos regop bome wat die Here geplant het om te wys hoe groot Hy is.

4. Hulle sal geboue herstel wat lank verwoes gelê het. Plekke wat vroeër afgebreek was, sal hulle weer opbou. Hulle sal dorpe wat geslagte lank verwoes gelê het, nuut maak.

5. Buitelanders sal vir julle werk. Hulle sal julle skape oppas en op julle landerye en in julle wingerde vir julle werk.

6. Julle sal die Here se werkers genoem word. Mense sal van julle praat as God se dienaars. Julle sal die geld van die nasies kan gebruik om van te lewe. Julle sal dit alles besit.

7. Julle sal nie verder bespot en beledig word nie. In die plek daarvan sal julle in julle land twee keer soveel besit as wat julle tevore gehad het. Julle blydskap sal geen einde hê nie.

8. Ek is die Here. Ek soek geregtigheid by julle. Ek haat diefstal en onreg. Ek sal my woord hou en vir my volk hulle beloning gee. Ek sal met hulle ’n ooreenkoms maak wat nooit sal ophou nie.

9. Hulle nageslag sal bekend word onder die nasies. Die volke sal hulle ken. Almal wat sien hoe dit met hulle gaan, sal raaksien dat hulle ’n volk is vir wie die Here voorspoedig maak.

10. Ek is baie bly oor wat die Here gedoen het. Ek is vol vreugde omdat Hy my gered het. Hy het my soos ’n bruidegom met ’n kroon op sy kop gemaak. Ek is soos ’n bruid wat met juwele versier is.

11. Die aarde laat plante opskiet. In ’n tuin kom daar plantjies uit. My Heer, die Here, sal net so ook sy bevryding vir my laat kom. Hy sal dan voor al die nasies grootgemaak kan word.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 61