Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 58:9-14 Die Boodskap (DB)

9. Wanneer jy dan na die Here roep, sal Hy jou antwoord. As jy God vra om jou te help, sal Hy sê: Ek kom.Hou op om mense onregverdig te behandel. Hou op om vir mekaar vinger te wys en mekaar vals te beskuldig.

10. Gee kos vir hulle wat niks het om te eet nie. Versorg hulle wat behoeftig is. Dan sal dit vir jou word soos lig wat die donker laat verdwyn, soos die son wat in die middel van die dag skyn.

11. Die Here sal dan die hele tyd saam met jou wees. Wanneer dit moeilik gaan, sal Hy vir jou gee wat jy nodig het. Hy sal jou krag gee. Jy sal wees soos ’n tuin wat goed natgemaak word. Daar sal nooit ’n tekort wees aan water in jou tuin nie.

12. Jou nageslag sal die ou bouvalle weer opbou. Hulle sal op die fondamente bou wat al geslagte lank bestaan. Hulle sal julle die mense noem wat mure weer opbou, wat huise en strate weer regmaak om in te bly.

13. Rus ’n bietjie op die sewende dag. Jy mag nie op die Here se dag sommer net doen wat jy wil nie. Dit moet ’n dag wees waarop jy bly is. Jy moet daardie dag aan die Here afstaan. Jy moenie met jou gewone werk aangaan nie. Jy moet nie op daardie dag besigheid doen of transaksies sluit nie.

14. As jy die sabbat so deurbring, sal jy bly wees dat jy aan die Here behoort. Ek sal sorg dat almal oor die hele wêreld jou ken. Jy sal alles geniet wat jou oorgrootoupa Jakob aan jou nagelaat het. Ek, die Here, belowe dit vir julle.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 58