Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 57:13-21 Die Boodskap (DB)

13. Dink julle julle klomp afgode gaan julle kom red as julle roep dat iemand julle tog moet kom help? As daar net ’n luggie roer, sal dit julle wegwaai.Hulle wat by My hulp kom soek, kan vir altyd in die land kom bly. Hulle sal na my woonplek toe kan kom om tot My te bid.

14. Die Here sê: Herstel die pad. Maak dit weer reg. Vat die klippe uit die pad uit dat my volk weer kan terugkom.

15. So sê die Here wat daar hoog bo bly en wie se Naam die hoë God is, Hy wat vir altyd leef en wat totaal anders is: Ek bly wel hoog daar bo, maar Ek bly ook by mense hier onder wat verneder en nederig is. Ek laat hulle weer uit die grond uit opstaan. Ek gee vir hulle nuwe hoop.

16. Ek sal nie aanhou stry met hulle nie. Ek sal ook nie vir altyd vir hulle kwaad bly nie. Geen mens wat Ek gemaak het, sou dan kon bly lewe nie.

17. Ek was kwaad vir my volk oor hulle altyd alles net vir hulleself wil hê. Ek het hulle gestraf. Ek het My eenkant gehou, maar hulle het maar net aangegaan en gemaak wat hulle wou.

18. Ek het gesien wat toe met hulle gebeur het. Ek sal hulle weer herstel. Ek sal hulle teruglei en alles weer regmaak. Ek sal hulle wat huil, kom troos.

19. Ek sal hulle weer laat sing. Alles sal weer reg wees vir dié wat hier naby is en dié wat nog daar ver weg is. Ek sal hulle gesond maak.

20. Hulle wat sonder My probeer klaarkom, sal so onrustig wees soos die see wat nooit tot rus kan kom nie. Hulle sal soos die branders wees wat een laag opdrifsels na die ander op die strand uitstoot.

21. Vir sulke mense sal daar net nooit kalmte kom nie, sê die Here.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 57