Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 57:10-18 Die Boodskap (DB)

10. Julle word moeg van die soekery, maar julle dink nie daaraan om op te hou nie. Julle begeerte dryf julle om nooit op te hou soek nie.

11. Watter gode het julle so bang en beangs gemaak dat julle vir My gelieg het? Waarom het julle skoon van My vergeet? Waarom het julle My uit julle gedagtes laat gaan? Was dit omdat Ek so lank maar net stilgebly het dat julle opgehou het om respek vir My te hê?

12. Ek sal nou vir almal wys hoe verkeerd julle was en watter foute julle gemaak het. Daardie afgode gaan julle niks in die sak bring nie.

13. Dink julle julle klomp afgode gaan julle kom red as julle roep dat iemand julle tog moet kom help? As daar net ’n luggie roer, sal dit julle wegwaai.Hulle wat by My hulp kom soek, kan vir altyd in die land kom bly. Hulle sal na my woonplek toe kan kom om tot My te bid.

14. Die Here sê: Herstel die pad. Maak dit weer reg. Vat die klippe uit die pad uit dat my volk weer kan terugkom.

15. So sê die Here wat daar hoog bo bly en wie se Naam die hoë God is, Hy wat vir altyd leef en wat totaal anders is: Ek bly wel hoog daar bo, maar Ek bly ook by mense hier onder wat verneder en nederig is. Ek laat hulle weer uit die grond uit opstaan. Ek gee vir hulle nuwe hoop.

16. Ek sal nie aanhou stry met hulle nie. Ek sal ook nie vir altyd vir hulle kwaad bly nie. Geen mens wat Ek gemaak het, sou dan kon bly lewe nie.

17. Ek was kwaad vir my volk oor hulle altyd alles net vir hulleself wil hê. Ek het hulle gestraf. Ek het My eenkant gehou, maar hulle het maar net aangegaan en gemaak wat hulle wou.

18. Ek het gesien wat toe met hulle gebeur het. Ek sal hulle weer herstel. Ek sal hulle teruglei en alles weer regmaak. Ek sal hulle wat huil, kom troos.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 57