Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 48:3-16 Die Boodskap (DB)

3. Ek het vantevore al vir julle gesê wat gaan gebeur. Ek het julle dit uit my eie mond laat hoor. Ek het onverwags gedoen wat Ek gesê het.

4. Ek weet hoe moeilik dit is om met jou klaar te kom. Ek weet dat jy onbuigsaam en hardkoppig is.

5. Ek het voor die tyd al vir jou gesê wat gaan gebeur. Voor iets nog gebeur het, het Ek gesorg dat jy daarvan weet. Jy kan nie sê: “Dit is my eie god wat hierdie dinge laat gebeur het” nie. Jy kan ook nie sê: “My afgodsbeeld het besluit dit moet gebeur” nie.

6. Jy het mos gehoor wat Ek gesê het gaan gebeur. Jy het gesien hoe dit gebeur het. Kan jy dit ontken?Ek gaan nou vir jou van nuwe dinge vertel wat Ek tot dusver nog stil gehou het. Jy het nog nie daarvan gehoor nie.

7. Dit is nuwe dinge wat nog nie vantevore gebeur het nie. Jy het voor vandag nog glad nie daarvan geweet nie. Wanneer dit gebeur het, sal jy nie kan sê: “Maar ek het dit alreeds voorheen geweet” nie.

8. Jy het beslis nog nie hiervan gehoor nie. Jy weet daar niks van nie. Julle kon dit nie voorheen al gehoor het nie.Ek weet mos hoe onbetroubaar jy is. Van kleins af was jy eiesinnig.

9. Om my Naam skoon te hou sal Ek sorg dat Ek nie vir jou kwaad word nie. Om my eer te beskerm sal Ek jou nie verwoes nie.

10. Ek het jou gesmelt, maar nie soos silwer gesmelt word nie. Ek het jou in die oond van swaarkry gesmelt.

11. Ek het dit gedoen om my Naam in ere te hou. Ek laat nie my eer aantas nie. Ek staan nie my eer aan afgode af nie.

12. Jakob, jy moet na My luister. Ek het Israel geroep om aan My te behoort. Ek is die Here. Ek is die eerste en die belangrikste.

13. Ek het met my eie hand die fondamente van die aarde gelê. Ek het met my regterhand die hemelkoepel gespan. As Ek die mense roep om My te kom sien, kom staan hulle op aandag voor My.

14. Kom almal hier bymekaar. Kom luister wat Ek sê. Was daar een van die gode wat vir julle gesê het dat Ek ’n man gaan kies wat Babel gaan aanval? Hy sal met die Galdeërs maak soos Ek besluit het.

15. Ek self het besluit om hom te roep. Ek stuur hom na Babel toe. Hy sal suksesvol wees met wat hy gaan doen.

16. Kom staan hier naby My. Hoor wat Ek sê. Van die begin af sê Ek dit openlik. Wanneer dit gebeur, sal Ek by wees.Die Here my God stuur my. Hy gee my sy Gees om saam met my te gaan.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 48