Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 41:8-15 Die Boodskap (DB)

8. Maar jy hoef nie bang te wees nie, Israel. Jy behoort mos aan My. Jy is Jakob wat Ek vir My uitgekies het. Jy is my vriend Abraham se kind.

9. Ek het jou gaan haal by die heel verste plekke op die wêreld. Ek het jou laat kom van die uithoeke van die aarde af. Ek het vir jou gesê: “Kom bid tot My.” Ek het jou vir My uitgekies. Ek sal jou nooit in die steek laat nie.

10. Ek is by jou. Jy hoef nie bekommerd te wees nie. Ek is jou God. Jy hoef nie bang te wees nie. Ek sal jou help. Ek sal jou sterk maak. Ek sal jou met my krag beskerm.

11. Al jou vyande wat so kwaad was vir jou gaan maar sleg daarvan afkom. Almal wat met jou baklei het, sal verdwyn.

12. Jy sal verniet soek na die mense wat met jou rusie gemaak het. Die mense wat teen jou oorlog gemaak het, sal wegraak asof daar nooit sulke mense was nie.

13. Ek is mos die Here jou God. Ek sal jou hande sterk maak. Ek sê vir jou: Hou nou op om bang te wees. Ek self help jou dan.

14. Al is jy klein, Israel, en al voel jy soos ’n wurmpie, Ek sal jou help, sê die Here. Die groot God self gaan jou red, Israel.

15. Ek maak jou soos ’n masjien waarmee ’n mens graan dors, wat nuwe, skerp lemme gekry het. Jy sal selfs berge kan dors en hulle fynmaal. Jy sal heuwels aan flarde kan sny soos graanstoppels.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 41