Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 29:13-24 Die Boodskap (DB)

13. Die Here het gesê: Hierdie volk praat asof hulle My ken en My dien. Hulle gebruik al die regte en bekende woorde, maar hulle lewe baie ver van My af. Hulle godsdiens is niks anders nie as ’n klomp mensgemaakte reëls wat hulle uit die kop uit ken en opsê.

14. Daarom gaan Ek hierdie volk skok deur een na die ander ongehoorde ding te doen. Hulle geleerdes sal gekke van hulleself maak en van al hulle kennis sal net mooi niks oorbly nie.

15. Daar wag groot probleme op dié wat dink hulle kan hulle planne vir die Here wegsteek deur in die donker te konkel. Hulle dink by hulleself: “Niemand weet van ons nie, hulle kan nie sien wat ons doen nie.”

16. Hoe naïef kan ’n mens wees! Die Here is tog die pottebakker, en die pottebakker en die klei kan mos nooit ewe belangrik wees nie. Julle is die kleipotte wat Hy gemaak het, julle kan nie omdraai en sê: “Hy het ons nie gemaak nie.” Nog minder kan ’n kleipot ooit van die pottebakker sê: “Hy weet nie wat hy doen nie.”

17. Dit is nie meer lank nie, dan sal die wildernis waarin die Libanon verander het, weer ’n vrugbare gebied wees. En die landerye sal so vrugbaar wees dat dit wat daarop groei vir ’n bos aangesien sal word.

18. In daardie tyd sal dowes kan hoor as daar uit ’n boek voorgelees word; blindes wat hulle lewe lank in die donker van blindheid vasgevang was, sal kan sien.

19. Mense wat nog altyd afhanklik was van die Here sal nuwe vreugde saam met Hom beleef, en die arm mense sal bly wees oor wat die heilige God van Israel vir hulle gedoen het.

20. Dit sal die einde wees van die wreedaards en die ligsinnige mense. Almal wat daarop uit was om kwaad te doen sal uitgeroei word,

21. ook die mense wat ander vals van misdaad beskuldig en onskuldige mense aan die pen laat ry met hulle vals getuienis.

22. Daarom sê die Here, wat vir Abraham verlos het, vir die nageslag van Jakob: Julle sal nie verder verkleineer word of skaam hoef te kry oor wie julle is nie.

23. Want as julle die kinders sien waarmee Ek julle gaan seën, sal julle my heiligheid eer en erken dat Ek die heilige God van Israel is. Julle sal verbysterd staan voor My, die God van Jakob.

24. Dan sal dié wat die pad byster geraak het, weer rigting kry en dié wat met alles ontevrede was, gewillig wees om te leer.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 29