Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 26:1-16 Die Boodskap (DB)

1. In daardie tyd sal hulle hierdie lied in Juda sing: Ons stad is sterk! God self beskerm ons mure.

2. Maak die hekke wyd oop sodat die volk wat verlos is, kan inkom en dié wat getrou gebly het aan die Here, mag deurstap.

3. U, Here, gee u vrede en voorspoed vir dié wat op U vertrou en volhard in die geloof.

4. Vertrou altyd op die Here, want Hy sal ons beskerm.

5. Hy het dié wat vol van hulleself is, verneder en hulle stad se mure met die grond gelyk gemaak.

6. Die armes en die mense wat voorheen deur hulle verneder is, loop nou daaroor en vertrap dit tot stof.

7. Vir ’n gelowige mens is die pad nie moeilik nie, want U maak dit vir hom gelyk.

8. Here, ons sal U volg en ons hoop in U stel. Om U te loof en prys is ons diepste hartsverlange.

9. Selfs in die nag verlang ek na U. Ek kan nie wag vir die môre om te kom nie. As die wêreld na U luister, leer hulle wat regverdigheid beteken.

10. As ’n mens net goed is vir iemand wat kwaad doen, leer hy nooit wat reg of verkeerd is nie. Ten spyte van ander mense se eerlikheid bly hulle oneerlik, want hulle erken nie die gesag van die Here nie.

11. U staan reg om hulle te straf, Here, maar hulle steur hulle nie daaraan nie. Verneder hulle, Here, laat hulle voel hoe dit voel as U met al u mag op hulle afkom; dan sal hulle agterkom hoe lief U vir u volk is.

12. Ons is ryk, Here, maar alles wat ons bereik het, is as gevolg van wat U vir ons gedoen het.

13. Here ons God, ons het al konings gehad wat oor ons regeer het, maar vir U, Here, aanbid ons.

14. Hulle is dood en vergete, hulle tyd is vir altyd verby. U het hulle gestraf en hulle uitgeroei. Niemand kan hulle eens meer onthou nie.

15. Ons loof U, Here, want U het ons ’n magtige nasie gemaak en ons grense na alle kante toe vergroot.

16. Toe ons in die nood was, het ons na U toe gevlug, Here. Toe ons swaargekry het omdat U ons gestraf het oor ons sonde, het ons by U hulp gaan soek.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 26