Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 23:10-18 Die Boodskap (DB)

10. Vir die inwoners van Tarsis bly daar net een moontlikheid oor as hulle wil oorleef, en dit is om te begin om hulle lande te bewerk en self te boer, want die hawe is tot niet.

11. Die Here het sy hand oor die see uitgesteek om die koninkryke van die aarde te skud. Hy het die opdrag gegee dat die handelstede van die Fenisiërs verwoes moet word.

12. Hy sê: Jou dae van feesvier is vir altyd verby. Jy was op jou tyd ’n pragtige stad vol lewe, maar daardie tyd is verby. Jy was ’n magtige stad, maar nou kry jou mense swaar. Selfs al vlug hulle Siprus toe, sal hulle nie veilig wees nie.

13. Dit is die Babiloniërs wat Tirus gaan vernietig en nie die Assiriërs nie. Hulle sal vestingwalle bou om oor die stad se mure te klim en al die paleise daarin afbreek sodat die stad soos ’n puinhoop sal lyk. Die enigste inwoners wat sal oorbly, is die woestyndiere wat tussen die puin sal loop en snuffel.

14. Julle moet treur, matrose, want die stad waarop julle altyd staatgemaak het, is verwoes.

15. Vir 70 jaar, die leeftyd van ’n koning, sal Tirus vergete lê. Na hierdie tyd sal dit met Tirus gaan soos die lied oor die prostituut sê:

16. “Vat jou harp en stap deur die stad, jou arme vergete prostituut! Sing en speel mooi liedjies sodat die mans jou weer kan onthou.”

17. Na die 70 jaar om is, sal die Here Tirus weer laat herleef. En die stad sal weer handel dryf soos voorheen en weer sakevennote oor die hele wêreld hê.

18. Maar hierdie keer sal al die handelswinste vir die Here gegee word. Dit sal nie weer opgegaar en gebêre word nie. Uit hierdie winste sal kos en klere gekoop word vir die mense wat die Here dien en aanbid.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 23