Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 23:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Die Here se boodskap om Tirus se straf aan te kondig: Huil, matrose van Tarsis wat van die ver lande af op pad is terug huis toe, want Tirus, julle veilige hawe, is verwoes. Die gerugte wat julle in Siprus gehoor het, is waar.

2. Sidon se kusbewoners en handelaars is stomgeslaan van die skok. Hulle het verteenwoordigers in alle rigtings oor die see gestuur om handel te dryf.

3. Hulle het graan uit Egipte uit ingevoer van die vrugbare Nylgebied af en dit dan weer aan die ander nasies teen ’n wins verkoop.

4. Laat sak jou kop in skaamte, Sidon, jy wat ’n groot hawestad was. Nou is jy die een wat sê: “Ek het nooit kinders, seuns of dogters, in die wêreld gebring of grootgemaak nie.”

5. Vir die Egiptenaars sal die nuus oor Tirus ’n geweldige skok wees.

6. Vaar terug Tarsis toe en huil, julle wat langs die kus bly.

7. Hoe kan hierdie grafstil puinhoop al wees wat oor is van die stad wat altyd feesgevier het? Is dit die stad met die roemrykste geskiedenis van al die nedersettings wat hulle oor die hele wêreld gevestig het?

8. Wie het hierdie ramp oor Tirus gebring? Tirus het tog koninkryke opgebou, sy handelaars is soos prinse behandel, hulle was van die mees gerespekteerde mense in die wêreld.

9. Dit is die Here die Almagtige wat dit gedoen het om hulle hoogmoed oor hulle prestasies te breek en om sy ongelukkigheid met hulle vername handelaars en hulle verwaandheid te wys.

10. Vir die inwoners van Tarsis bly daar net een moontlikheid oor as hulle wil oorleef, en dit is om te begin om hulle lande te bewerk en self te boer, want die hawe is tot niet.

11. Die Here het sy hand oor die see uitgesteek om die koninkryke van die aarde te skud. Hy het die opdrag gegee dat die handelstede van die Fenisiërs verwoes moet word.

12. Hy sê: Jou dae van feesvier is vir altyd verby. Jy was op jou tyd ’n pragtige stad vol lewe, maar daardie tyd is verby. Jy was ’n magtige stad, maar nou kry jou mense swaar. Selfs al vlug hulle Siprus toe, sal hulle nie veilig wees nie.

13. Dit is die Babiloniërs wat Tirus gaan vernietig en nie die Assiriërs nie. Hulle sal vestingwalle bou om oor die stad se mure te klim en al die paleise daarin afbreek sodat die stad soos ’n puinhoop sal lyk. Die enigste inwoners wat sal oorbly, is die woestyndiere wat tussen die puin sal loop en snuffel.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 23