Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 2:10-20 Die Boodskap (DB)

10. Gaan kruip weg in die grotte of in gate in die grond uit vrees vir die Here en die heerlikheid van sy Goddelike majesteit wat saam met Hom kom.

11. Daar kom ’n dag waarop die hoogmoediges tot ’n val kom en die verwaandes op hulle plek gesit sal word. Op dié dag sal dit net die Here wees wat geëer word.

12. Op daardie dag sal die Here almal wat verwaand en hoogmoedig is, op hulle plek sit.

13. Hy sal al die hoë sederbome van die Libanon en die groot akkerbome van Basan tot teen die grond afkap.

14. Hy sal al die berge en heuwels met die grond gelykmaak.

15. En die versterkte mure met hulle wagtorings sal Hy omgooi en vernietig.

16. Hy sal al die groot handelskepe op die oop see en in die hawens vernietig.

17-18. Op daardie dag sal die Here almal wat verwaand en hoogmoedig is op hulle plek sit, en al die afgode sal vernietig word. Net die Here alleen sal geëer word.

19. Wanneer die Here die aarde met ’n aardbewing skud, sal die mense in grotte of in gate in die grond gaan wegkruip uit vrees vir die Here en die heerlikheid van sy Goddelike majesteit wat saam met Hom kom.

20. Op daardie dag sal hulle hulle wonderlike goue en silwerafgode net daar in die grotte en gate laat agterbly vir die vlermuise en die rotte.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 2