Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 19:8-19 Die Boodskap (DB)

8. Die vissers sal oor hulle lot kla. Niemand wat met hoeke of nette in die Nyl visgevang het, sal iets hê om van te lewe nie.

9. Die wewers sal nie vlas of katoen hê om mee te weef of te vleg nie omdat die oeste misluk het.

10. Almal wat met hierdie materiaal werk, sal stomgeslaan wees oor hulle lot.

11. Die leiers van Soan is ’n klomp gekke en die koning van Egipte se raadgewers gee vir hom verspotte raad. Dis ondenkbaar dat hulle die farao probeer wysmaak dat hulle voorouers verstandige mense was.

12. Waar is jou slim raadgewers dan nou, Farao? As hulle dan werklik so slim is, laat hulle vir jou kom vertel wat die Here die Almagtige se plan met Egipte is.

13. Die sogenaamde leiers van Soan is almal lagwekkend kinderagtig. En dié van Memfis is almal onderduims. Egipte se leiers het hulle land op ’n dwaalspoor gelei.

14. Die Here het hulle verwar. Daarom neem hulle onsinnige besluite. Hulle laat Egipte rondslinger soos ’n dronk mens wat in sy eie braaksel rondgly.

15. Daar is niemand, nie ryk of arm, nie die vooraanstaande mense of dié sonder aansien, wat Egipte meer kan red nie.

16. Daar kom ’n tyd dat die Egiptenaars so swak sal wees soos die swakstes. Hulle sal bewe van angs as hulle sien dat die Here besluit het om teen hulle op te tree en hulle te straf.

17. As iemand net die naam Juda noem, sal hulle angsbevange aan die bewe gaan, want dit sal hulle herinner aan wat die Here die Almagtige se plan met hulle is.

18. In daardie tyd sal daar so baie Israeliete in Egipte wees dat hulle in vyf Egiptiese stede Hebreeus sal praat en hulle sal die Here die Almagtige openlik dien. Een van daardie stede sal Die Stad Waar Reg Geskied genoem word.

19. So sal daar in die hart van Egipte ’n altaar wees waarop daar vir die Here geoffer word. Op die grens sal daar ’n monument wees met sy Naam daarop as ’n herinneringsteken.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 19