Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 13:1-16 Die Boodskap (DB)

1. Jesaja, Amos se seun, het die volgende visioen oor Babel se straf gesien:

2. Hys die vlag wat die teken is dat die aanval moet begin op ’n oop heuwel. Roep die soldate bymekaar en moedig hulle aan om die hoogmoedige stad Babel aan te val.

3. Ek, die Here, is in beheer van hierdie soldate. Ek het hierdie dapper vegters laat kom om my oordeel te voltrek. Hulle het net een doel voor oë en dit is om vir my eer te veg.

4. Luister na die gedreun op die berge, dit is ’n geweldige groot leër wat aankom. Hierdie leër bestaan uit baie nasies en koninkryke wat hulle magte saamspan. Hulle is op pad omdat die Here die Almagtige besig is om ’n leër bymekaar te maak vir oorlog.

5. Hulle kom van ver af, van die verste uithoeke van die wêreld af. Deur hulle gaan die Here hierdie land verwoes.

6. Begin solank huil, want die dag van die Here se oordeel is baie naby en dit is ’n dag van verwoesting.

7. Almal sal lam word van die skrik en vreesbevange bly staan.

8. Angs sal hulle oorval soos ’n vrou wat skielik deur kraampyne oorval word, en hulle sal mekaar verskrik aankyk, bleek van die vrees.

9. Die dag van die Here is ’n werklikheid. Op dié dag sal sy woede en straf losbars en sal Hy daardie land en al sy sondige inwoners vernietig.

10. Dan sal die sterre van die hemel en die sterrebeelde wat hulle vorm nie meer blink nie. Al sou die son opkom, sou dit nie meer skyn nie en die maan sal nie lig gee nie.

11. Ek gaan die land straf oor sy sonde en die goddelose mense oor hulle misdade. Ek gaan die verwaandheid van die arrogante mense uitwis. Ek sal hulle bespotlik maak.

12. Daar sal maar min mense oorbly nadat Ek met hulle klaar is. Hulle sal baie skaarser wees as die suiwer goud uit Ofir.

13. Die hemel sal skud en die aarde sal uit sy plek geruk word die dag wanneer Ek, die Here die Almagtige, my woede laat losbars.

14. Al die uitlanders wat in Babel bly, sal na hulle eie land toe padgee. Hulle sal terugvlug na hulle eie land en hulle eie mense toe, nes wildsbokke wat gejag word of skape sonder ’n herder.

15. Want as iemand gevang word, sal hy op die plek doodgemaak word.

16. Hulle sal hulpeloos moet staan en toekyk hoe hulle babatjies voor hulle oë doodgemaak word, hulle huise geplunder word en hulle vroue verkrag word.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 13