Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 50:33-42 Die Boodskap (DB)

33. Die Here sê: “Die mense van Israel en Juda is nie reg behandel nie. Die vyand wat hulle gevang het, het geweier om hulle vry te laat.

34. Maar daar is iemand wat hulle help om vry te kom. Hy is baie sterk. Hy is die Here wat sterker as alles en almal is. Hy sal hulle belange op die hart dra en sorg dat hulle rus en vrede in hulle land sal hê. Die vooruitsigte vir die mense van Babel is nie goed nie. Hulle sal nie rus en vrede hê nie, maar probleme.

35. Daar wag oorlog en dood vir die leiers van die Babiloniërs. Maar nie net vir hulle nie, ook vir die raadgewers en al die mense van Babel.

36. Daar wag oorlog vir die waarsêers. Hulle sal gekke van hulleself maak oor wat hulle voorspel. As die oorlog begin, sal die soldate bewe van angs.

37. Selfs die soldate wat met perde en strydwaens ry, sal soos papbroeke reageer. Dieselfde sal ook met hulle huursoldate gebeur. In die oorlog sal al hulle kosbare goed ook gesteel word.

38. Dit sal selfs ook hulle water raak. Die water sal opdroog. Die rede hoekom al hierdie dinge gebeur, is die afgode. Die hele land is vol afgode en die mense is dol oor hulle.”

39. Die Here sê: “Wilde diere sal Babel hulle blyplek maak. Daar sal nooit weer mense wees wat daar bly nie, maar hiënas en volstruise sal daar bly.

40. Ek sal Babel verwoes net soos Ek destyds met Sodom en Gomorra gemaak het. Daar sal nie meer mense wees wat daar bly nie. Selfs nie eens net vir ’n rukkie nie.”

41. Die Here sê: “Wees gewaarsku, ’n volk uit die noorde is op pad na julle toe, Babel. Dit is ’n groot, sterk nasie. Baie konings uit die verste dele van die aarde is besig om reg te maak om teen julle op te trek.

42. Hulle het al die wapens wat nodig is om te veg. Hulle is baie wreed en sal niemand spaar nie. Die troepe ry op perde en dit klink soos die see wat dreun as hulle aankom. Hulle is goed georganiseerd en reg om julle aan te val, mense van Babel.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 50