Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 5:17-26 Die Boodskap (DB)

17. Hulle sal alles wat hulle in die hande kry, opeet. Hulle sal die oes opeet en ook al julle kos. Verder sal hulle ook julle kinders doodmaak en die kleinvee en beeste slag. Maar dit is nog nie die einde nie. Hulle sal julle wingerde en vyebome verniel. Julle het van julle stede sterker gemaak met mure en dik deure en gedink dat julle daarin veilig sal wees. Maar die waarheid is dat hulle hierdie stede ook sal verwoes.”

18. Maar hoor wat sê die Here: “In hierdie verskriklike tyd wat al hierdie dinge sal gebeur, sal Ek julle nie totaal uitwis nie.

19. As die mense sou vra waarom doen die Here hierdie dinge aan ons, moet julle antwoord: ‘Ons het die Here verraai en ander vreemde gode hier in ons eie land begin dien. Nou sal ons vreemde mense in ’n vreemde land moet dien.’”

20. Gaan sê vir die mense van Israel in die noordelike koninkryk en Juda in die suidelike koninkryk:

21. “Luister hier, julle dom en onverstandige volk. Julle het oë, maar julle sien niks. Julle ore hoor ook nie.

22. Het julle geen respek vir My nie?” vra die Here. “Is julle nie bang vir My nie? Ek het met die sand die grense vir die see getrek. Die see mag nie by hierdie grense verbygaan nie. Die branders van die see kan maar hoog opswel, hulle sal nie daaroor kan slaan nie. Hulle kan maar hard dreun, hulle sal nog steeds nie verby die sand kan kom nie.

23. Maar my volk is hardkoppig en opstandig. Hulle het die rug vir My gedraai en besluit om hulle eie kop te volg.

24. Dit kom nooit by julle op om te sê: ‘Kom ons gee eer aan die Here wat vir ons die reën op die regte tyd gee’ of ‘Wat ook op die regte tyd vir ons ’n goeie oes gee’ nie.

25. Dit is as gevolg van julle boosheid dat julle hierdie voorregte mis. Dit is al die verkeerde goed wat julle doen wat maak dat dit nie met julle goed gaan nie.

26. Daar is slegte mense onder my volk wat voëls stilletjies soos ’n jagter bekruip. Hulle slagoffers is egter nie voëls nie, maar mense.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 5