Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 49:23-30 Die Boodskap (DB)

23. Oor Damaskus sê die Here: “Die mense in die stede Hamat en Arpad is geskok omdat hulle slegte nuus gehoor het. Hulle hart voel so onstuimig soos die see en kan nie tot rus kom nie.

24. Damaskus se mense is moedeloos en wil net wegvlug. Hulle lewe word deur angs en vrees oorheers. Hulle voel bang en ellendig soos ’n vrou wat deur geboortepyne oorval word.

25. Damaskus is ’n beroemde stad wat bekend is vir vrolikheid. Hoekom gaan dit dan ’n verlate plek word?

26. Die dag as al hierdie dinge gebeur, sal die jongmans in die strate val en doodgaan. Al die soldate van Damaskus sal doodgemaak word. Dit is wat Ek, die Here, sê, en Ek is sterker as alles en almal.

27. Ek sal ’n vuur in Damaskus aan die brand steek. Al koning Ben-Hadad se versterkte skuilplekke sal afgebrand word.”

28. Die volgende is wat die Here oor Kedar en die koninkryke van Gasor sê. Koning Nebukadnesar van Babel het hulle aangeval.Die Here sê: “Maak reg en val Kedar aan! Vernietig die mense uit die ooste!

29. Die tente waarin hulle bly en ook hulle vee sal geroof word. Alles wat hulle in hulle blyplekke het, sal gevat word. Hulle kamele sal ook gesteel word. Die mense sal vir hulle skree: ‘Om elke hoek en draai is daar gevaar!’”

30. Die Here se raad vir die mense van Gasor is: “Vlug vir julle lewe! Gaan kruip weg in plekke wat veilig is. Koning Nebukadnesar het planne gereed oor wat hy met julle wil maak. Hy weet presies wat hy wil doen.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 49