Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 46:23-28 Die Boodskap (DB)

23. Hulle sal die mense soos bome van ’n bos neerkap. Hulle sal dit regkry selfs al lyk dit of ’n mens nie in die bos kan ingaan nie,” sê die Here. “Die vyand se getalle is meer as ’n swerm sprinkane; daarom sal hulle dit regkry.

24. Die mense van Egipte sal verneder word. Hulle sal aan die mense wat uit die noorde kom, oorgegee word.”

25. Die Here wat die God van Israel is, sê: “Ek sal Amon, die god van Tebes, straf saam met al die ander gode van Egipte. Ek gaan ook vir Egipte en haar konings, ja, ook vir die farao en dié wat op hom vertrou, straf.

26. Ek sal hulle oorgee aan die mense wat hulle baie graag wil doodmaak, mense soos Nebukadnesar en sy offisiere. Maar as al hierdie verwoestende oorloë verby is, sal mense weer soos vantevore in Egipte kom bly.” Die Here sê dit sal gebeur!

27. Die Here sê: “Moenie bang of moedeloos wees nie, Israel. Julle behoort aan My. Al is julle ver weg, sal Ek julle red. Ek sal jou nageslag laat terugkom uit die lande waar hulle gevangenes is. Israel, jou mense sal terugkom en rus en vrede hê. Daar is niks of niemand wat julle weer bang sal maak nie.”

28. Die Here sê: “Moenie bang of moedeloos wees nie, Israel. Julle behoort aan My, Ek sal altyd by julle wees. Ek sal die nasies waarheen Ek julle weggedryf het, heeltemal vernietig. Maar Ek sal julle nie vernietig nie. Maar dit moet julle ook weet, Ek sal julle nie ongestraf laat bly nie. Ek moet julle straf, maar Ek sal dit op ’n regverdige manier doen.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 46