Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 4:11-27 Die Boodskap (DB)

11. Dan sal die Here vir hierdie volk en vir die mense van Jerusalem sê: “’n Wind uit die woestyn wat so warm soos vuur is, waai oor die heuwels in die rigting van my volk. Dit is nie ’n ligte windjie waarmee ’n mens die kaf uit graan waai nie.

12. Nee, Ek stuur ’n wind wat baie sterker as dit waai. Ondergang is julle voorland,” sê die Here.

13. Ons vyand kom soos groot onweerswolke aan. Sy oorlogstuie kom aangejaag soos ’n orkaan. Sy perde is selfs vinniger as arende. Ons staan geen kans nie, dit is verby met ons!

14. Jerusalem, was die kwaad uit julle elkeen se hart uit sodat julle gered kan word. Hoe lank wil julle nog rondloop met verkeerde gedagtes?

15. Slegte nuus word uit Dan in die noorde en die berge van Efraim gehoor.

16. Gaan waarsku die nasies in die omgewing en gee ook vir die mense van Jerusalem die volgende boodskap: “’n Mag wat lande en stede inneem, is uit ’n ver land op pad. Hulle beplan om die stede van Juda aan te val.

17. Hulle omsingel Jerusalem net soos ’n mens sou maak om ’n graanland op te pas. Dit gebeur omdat my eie mense teen My in opstand gekom het,” sê die Here.

18. “Julle is self die oorsaak dat hierdie slegte goed met julle gebeur. As straf kry julle van julle eie bitter medisyne.” Dit voel soos ’n mes wat in jou hart steek.

19. Dit is vreeslik, ek kan die angs nie uitstaan nie! My hart klop verskriklik, ek kan dit nie rustig kry nie! Ek het gehoor hoe hulle op die trompette blaas om die aanval te begin. Ek het ook die vyand se oorlogskrete gehoor.

20. Die een ramp na die ander het gekom totdat die land heeltemal verwoes was. In ’n oogwink is al wat ’n blyplek is, tot niet gemaak.

21. Hoe lank gaan dit nog aanhou? Hoe lank gaan hulle nog aanhou om die trompette te blaas?

22. Die Here sê: “My volk is dom. Hulle ken My nie. Hulle het nie verstand nie. Dit lyk nie of hulle enigiets verstaan nie. Hulle is net slim as dit by kwaaddoen kom. Van goeddoen weet hulle net mooi niks!”

23. Ek het na die aarde gekyk en gesien dat dit woes en leeg was. Ek het ook na die hemel gekyk, en dit was sonder lig.

24. Ek het na die berge en die heuwels gekyk, en hulle het gebewe.

25. Toe ek weer kyk, kon ek nie enige mense sien nie. Selfs die voëls het weggevlieg.

26. Toe ek om my kyk, het ek gesien dat die vrugbare grond ’n woestyn geword het. Die stede het afgebreek gelê, want die Here het hulle platgevee toe Hy verskriklik kwaad was.

27. Die Here sê: “Die hele land sal dalk verwoes lê, maar Ek sal dit nie heeltemal tot niet maak nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 4