Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 38:11-18 Die Boodskap (DB)

11. Ebed-Melek het toe van die mense na die paleis toe saamgevat. Hy het lappe uit die pakkamer gaan haal. Hy het ook ou klere daar gekry. Hy het hierdie lappe en ou klere na die put toe gevat en dit met ’n tou na Jeremia toe laat afsak.

12. Hy het na Jeremia geroep en gesê: “Sit die lappe en ou klere onder jou arms sodat ons jou nie seermaak wanneer ons jou optrek nie.” Jeremia het toe so gemaak.

13. Hulle het Jeremia met die toue opgetrek en hom uit die put gehaal. Daarna het Jeremia weer in die paleis gebly, in die gedeelte waar die wagte gebly het.

14. Op ’n dag het koning Sedekia Jeremia laat haal. Hulle het mekaar toe by die derde ingang van die tempel gekry. Die koning het vir Jeremia gesê: “Ek wil jou iets vra. En moenie iets vir my wegsteek nie.”

15. Jeremia het koning Sedekia geantwoord: “As ek die waarheid praat, sal u my doodmaak. En as ek vir u raad gee, sal u in elk geval nie na my luister nie.”

16. Sedekia het toe in die geheim vir Jeremia belowe: “So seker as die Here leef wat vir ons lewe gee, ek sal jou nie doodmaak nie. Ek sal jou ook nie oorgee aan die mense wat jou dood wil sien nie.”

17. Jeremia het toe vir Sedekia gesê: “Die Here is die God van Israel. Hy is sterker as alles en almal. Hy sê: As u u aan die offisiere van die Babiloniese koning oorgee, sal u en u familie bly lewe. Die stad sal dan ook nie verbrand word nie.

18. Maar as u nie wil oorgee nie, is daar geen kans vir u om weg te kom nie. Jerusalem sal in die hande van die Babiloniërs val. Hulle sal die stad aan die brand steek.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 38