Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 34:2-12 Die Boodskap (DB)

2. “Gaan na Sedekia wat die koning van Juda is en sê vir hom: Hoor ’n bietjie wat sê die Here wat die God van Israel is. Hy sê: Ek gaan Jerusalem aan die koning van Babel oorgee. Hy sal die stad verbrand.

3. Sedekia, jy sal nie wegkom nie. Hulle sal jou vang en aan Nebukadnesar oorgee. Jy en hy sal persoonlik ontmoet voordat hy jou as gevangene na Babel toe sal stuur.

4. “Maar, koning Sedekia, luister na die belofte wat die Here maak. Hy sê: Jy sal nie in ’n geveg doodgaan nie.

5. Nee, jy sal in vrede sterf. Jou mense sal wierook brand by jou begrafnis, net soos hulle met die konings voor jou gedoen het. Hulle sal oor jou huil en sê: ‘Ag, ons koning is dood!’” Die Here sê dat Hy sal sorg dat dit so gebeur.

6. Jeremia het gedoen wat die Here gesê het hy moet doen. Hy het die boodskap vir koning Sedekia gegee.

7. In dié stadium was die Babiloniese leërs besig om teen Jerusalem, Lakis en Aseka oorlog te maak. Hierdie stede was die enigste stede van Juda met mure om wat nog nie ingeneem was nie.

8. Die Here het weer met Jeremia gepraat. Dit was nadat koning Sedekia ’n ooreenkoms met al die mense in Jerusalem gemaak het om hulle slawe vry te laat.

9. Hy het hulle beveel om al hulle Hebreeuse slawe, mans en vroue, vry te laat. Geen Jood moes meer ’n ander Jood se slaaf wees nie.

10. Die amptenare en al die mense van Juda het aanvanklik gedoen wat die koning beveel het,

11. maar later anders besluit. Hulle het die mans en die vroue wat hulle vry laat gaan het, weer hulle slawe gemaak.

12. Die Here het toe deur Jeremia vir hulle gesê:

Lees volledige hoofstuk Jeremia 34