Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 34:13-22 Die Boodskap (DB)

13. “Ek, die Here wat die God van Israel is, sê: Lank terug het Ek julle voorouers as slawe in Egipte vrygemaak. Toe het Ek met hulle ’n ooreenkoms gemaak.

14. Ek het hulle opdrag gegee om aan die einde van ses jaar elke Hebreër wat ’n slaaf is, vry te laat. Julle voorouers het dit nooit gedoen nie.

15. “Toe julle onlangs begin besef het dat dit verkeerd is, het julle reg gedoen om My te gehoorsaam. Julle het julle Joodse slawe vrygelaat. In my tempel het julle dit toe met ’n ooreenkoms met My vasgemaak.

16. “Maar nou het julle julle woord gebreek. Julle het My beledig met wat julle doen. Julle kan mos nie nou die mans en die vroue wat julle vry laat gaan het, weer julle slawe maak nie!”

17. Die Here sê: “Julle het nie na My geluister nie. Julle wou nie julle eie mense wat julle slawe was, vry laat gaan nie. Daarom sal Ek julle nou vry laat gaan om slagoffers te wees van oorlog, epidemies en kosskaarste. As die nasies van die wêreld die toestand sien waarin julle is, sal hulle hulle doodskrik.

18. Dit was die gebruik dat as ’n formele ooreenkoms tussen twee partye gemaak word, ’n kalf in twee dele gesny word. Daarna loop die twee partye tussen die dele deur om dit amptelik te maak. So sal Ek met elkeen maak wat die ooreenkoms met My verbreek het. Julle het julle nie gesteur aan wat ons afgespreek het nie. Daarom sal Ek julle middeldeur laat sny.

19. Dieselfde sal gebeur met die amptenare van Juda en Jerusalem, die amptenare van die paleis, die priester en die gewone mense in die land wat die ooreenkoms verbreek het.

20. Ek sal julle aan julle vyande oorgee. Hulle sal julle doodmaak. Julle lyke sal kos wees vir die roofvoëls en die wilde diere.

21. Die leër van die koning van Babel het alreeds van julle af teruggetrek. Maar al is dit so, sal Ek koning Sedekia van Juda en sy amptenare aan hulle vyande oorgee. Hulle wil julle graag dood sien.

22. Ek sal die Babiloniese leër opdrag gee om na Jerusalem toe terug te kom. Hulle sal weer teen die stad baklei. Hulle sal die stad inval en aan die brand steek. Verder sal Ek sorg dat al die stede van Juda soos ’n eensame en verlate plek sal wees waar niemand meer bly nie. Ek, die Here, sê dat dit so sal gebeur!”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 34