Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 27:13-22 Die Boodskap (DB)

13. Hoekom wil u en u mense doodgaan in ’n oorlog? Hoekom wil julle van honger of in ’n epidemie sterf? Die Here het gesê dit is wat sal gebeur met enige volk wat hulle nie aan die koning van Babel oorgee nie.

14. Moenie luister na julle profete wat sê: ‘Julle sal nie aan die koning van Babel oorgegee word nie.’ Hulle vertel vir julle ’n spul leuens!

15. Die Here sê: Ek het hulle nie gestuur nie. Hulle is vermetel om namens My te praat en dan verkondig hulle nog ’n spul leuens ook! Hulle sal die oorsaak wees dat Ek julle uit julle land sal wegjaag. Julle en hierdie profete met hulle leuens sal doodgaan.”

16. Ek het toe met die priesters en die mense gepraat en gesê: “Die Here sê: Moenie luister na julle profete wat sê dat al die kosbare goed wat uit die tempel van die Here weggevat is, gou uit Babel hiernatoe sal terugkom nie. Hulle lieg vir julle!

17. Moenie na hulle luister nie. Gee julleself aan die koning van Babel oor en julle sal bly leef. Hoekom moet hierdie stad verwoes word omdat julle julle ore aan hulle uitleen?

18. Hulle sê hulle is die Here se boodskappers. As dit so is, laat hulle dan tot die Here wat sterker as alles en almal is, bid. Laat hulle Hom dan vra dat die kosbare goed wat in die tempel van die Here oorgebly het, in die paleis in Juda en in Jerusalem nie na Babel toe weggevat word nie.

19. Die Here het reeds gesê wat met die koperpilare by die ingang van die tempel gaan gebeur. Hy het ook gesê wat met die groot koperbad, die staanders en die ander bakke wat nog in hierdie stad oor is, gaan gebeur.

20. Jojagin was destyds die koning van Juda. Hy was die seun van koning Jojakim. Koning Nebukadnesar van Babel het vir Jojagin en ’n groot klomp van die belangrikste mense van Juda en Jerusalem na Babel ontvoer. Maar toe hy dit destyds gedoen het, het hy van die kosbare goed net so in die tempel en die paleis gelos.

21. Maar hoor wat sê die Here oor hierdie kosbare goed wat in die tempel en die paleis van die koning van Juda is:

22. Hy sê: Al hierdie goed sal na Babel toe weggedra word. Daar sal dit bly totdat Ek eendag wil hê dit moet terugkom. As die tyd reg is, sal Ek alles weer na Jerusalem toe terugbring.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 27